Geen beurtkrag in afsonderingstydperk verwag

Argieffoto: GCIS

Eskom het gesê hy verwag nie om beurtkrag in die 21 dae van afsondering toe te pas nie.

Die kragvoorsiener het gesê die vraag na elektrisiteit het teen Dinsdagmiddag met meer as 6 000 MW afgeneem en dat hy verwag dat dit selfs verder sal daal tydens die afsonderingsperiode.

“Ten einde die integriteit van die stelsel te beskerm het Eskom begin om van die opwekkingseenhede van die netwerk te verwyder. Die eenhede is egter beskikbaar om op kort kennisgewing weer ingestel te word sou dit nodig wees.”

Volgens Eskom moes hy sy “filosofie-van-instandhouding-model” uitstel vir die tydperk van afsondering aangesien hy die aantal werkers op sy persele tot ʼn minimum moet beperk.

“Ons het eerder daarop begin fokus om korttermyninstandhouding en ander herstelwerk uit te voer ten einde die opwekkingseenhede te optimiseer om aan die vraag tydens die afsondering te voldoen.”

Donderdag teen 16:16 was daar 9 116 MW se onbeplande onderbrekings terwyl daar 5 279 MW se instandhoudingonderbrekings was.

Eskom het ook daarop gewys dat van sy personeel vrygestel is van die regulasies rakende die afsonderingstydperk aangesien die kragvoorsiener ʼn noodsaaklike en kritiese diens verskaf.

“Ons verwag dus nie enige hindernisse in die opwekking en verskaffing van elektrisiteit in hierdie periode nie. Ons verskaffers, veral die steenkoolmyne, logistiekverskaffers en diegene wat die onderdele- en instandhoudingsdienste by ons kragstasies verskaf, sal in staat wees om tydens die tydperk van afsondering te werk.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.