Geen beurtkrag verwag nie

Argieffoto

Argieffoto

Eskom het gesê die kragnetwerk is stabiel en dat geen beurtkrag Sondag verwag word nie.

“Dit hang alles af oor of ons kragopwekkers optimaal funksioneer en tot dusver funksioneer die stelsel goed,” het Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, gesê.

Tshediso Matona, uitvoerende hoof van Eskom, het Donderdag gesê die kragvoorsiener het die afgelope sewe jaar beurtkrag ten alle koste vermy en dat dit ʼn erge agterstand in instandhouding tot gevolg gehad het.

Matona het aangekondig dat daar van volgende week af moontlik daagliks beurtkrag sal voorkom tot minstens einde April (sien tabel onderaan berig). Matona het gesê van die kragvoorsiener se aanlegte het gedeeltelike ladingsverliese ervaar weens verslete parte.

Volgens Matona is daar nie ʼn venstertydperk om die parte te vervang of te herstel nie. Matona het gesê die “hou die ligte aan”-filosofie het ʼn kultuur geskep waar pro-aktiewe instandhouding minder belangrik is.

Matona het Eskom vergelyk met ʼn “skip wat deur moeilike waters seil” en ʼn motor wat gereeld gediens moet word. “As jy voortgaan om daarmee te ry sonder om dit te diens, sal dit jou vervoer, maar op ʼn sekere punt gaan dit onklaar raak. Ek dink dit is wat gebeur met baie van Eskom se opwekkingseenhede.”

Volgens Matona sal daar in Februarie 900 MW vir kragnetwerk verlore gaan wanneer een van Koeberg se kernkragstasies instandhouding sal ondergaan. Hy het gesê Suid-Afrikaners sal moet leer om roterende beurtkrag te hanteer aangesien die kragnetwerk onder druk sal bly tot daar nuwe opwekkingskapasiteit bygevoeg kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA CONTINO ·

Ek kan nie verstaan hoekom ESKOM nie voldoende krag kan voorsien nie. 30% van Ekurhuleni se straatligte brand 24 uur per dag!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.