‘Geen bewyse’ van listeriose-uitbreking

‘n Mikroskopiese blik op listeriose.

Daar is geen bewyse van ʼn uitbreking van listeriose nie en die aantal gevalle wat sedert die amptelike einde van die 2017-’18-uitbreking voorgekom het, is binne die verwagte omvang van ʼn sporadiese siekte.

Só het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gesê ná berigte dat talle nuwe gevalle van die siekte aangemeld is.

Volgens Nios is die listeria-bakterie alomteenwoordig in die omgewing en besmetting van voedsel kom waarskynlik redelik gereeld voor. Die eet van besmette voedsel kan tot listeriose lei, veral by kwesbare mense wat ʼn hoë risiko vir siektes het.

Tussen 117 en 294 sporadiese gevalle van listeriose per jaar kan in Suid-Afrika verwag word weens die bevolkingsgrootte. Volgens Nios is daar voor die 2017-’18-uitbreking 55 tot 113 gevalle van listeriose per jaar aangemeld.

In die 12 maande sedert die amptelike einde van die 2017-’18-uitbreking is altesaam 87 gevalle van listeriose in laboratoriums oor die land aangemeld.

Nios het tans die uitkoms van 67 van die 87 gevalle tot sy beskikking en hiervolgens is 21 sterftes aangemeld in die 67 gevalle waarvan die uitkoms bekend is.

“Dit is nie onverwags nie, aangesien listeriose ʼn ernstige siekte is wat kwesbare mense met ʼn hoë risiko teiken en tipies ʼn sterftesyfer van 20-30% het.”

Die uitbreking van listeriose in die middel van 2017 tot Maart 2018 het tot die dood van meer as 200 mense gelei, asook die sluiting van verwerkingsaanlegte.

Nuwe regulasies om die Suid-Afrikaanse verbruiker te beskerm teen die gesondheids- en veiligheidsrisiko’s wat die produksie van verwerkte vleisprodukte inhou, het vandeesmaand in werking getree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fanie du Preez ·

So.. is dit nou weer veilig om russians en viennas te eet ?

WMirabilis. ·

Aangesien Afrikaans deesdae oral aan die agterspeen suig en ons kinders nie meer geleer word hoe om korrek te spel nie, verwelkom ek enigiemand wat die volk wil leer hoe om te spel. Ek sou sê dit moet NIOS lees.

Maljan ·

Hulle het hulle teiken bereik. Die aanlegte soos enterprise het nou verbbbee. Nou is alles veilig!n

John ·

Nuwe regulasies wat wie gaan afdwing… gesondheidsinspekteurs… wat nie meer bestaan nie. Dis ‘n tragiese grap…

Ellisras ·

Die listerose “uitbraak” of plaag of noem dit wat jy wil het nie in die fabriek ontstaan nie. Ek en jy wat hier lees gebruik ook Weense worsies polonie en ander verwerkte “vleis”. Maar al die gevalle/sterftes was by arm mense wat nie yskaste het nie. Sodra jy die koue ketting breek kry jy moeilikheid. Listerose is oral. As jy koue vleis oop los raak dit glad/glyerig, dit is listerose.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.