Geen borg vir ‘De Wildt-plaasaanvallers’

Foto: Argief

Foto: Argief

Drie verdagtes wat na bewering die bejaarde egpaar, Hannes (77) en Annetjie van der Merwe (74) op hul familieplaas in De Wildt in Noordwes aangeval en gemartel het, is Donderdag borgtog geweier.

Hannes is op 20 Januarie 2015 met ʼn byl se stomp kant oor die kop geslaan en met ʼn warm strykyster op sy bene gebrand en sy vrou is só erg aangerand dat ʼn stuk vel van haar hand afgeskeur het.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ammunisie en drie ongelisensieerde vuurwapens.

AfriForum het vroeër ’n klag teen die senior staatsaanklaer van die Brits landdroshof, advokaat Vuyo Xalisa ingedien en antwoorde namens die gemeenskap versoek oor waarom die vermeende plaasaanvallers vrygelaat is, selfs nadat die slagoffers hulle uitgeken het. Die verdagtes is weer in hegtenis geneem, waarna vier van Hannes se vuurwapens en ander besittings in die verdagtes se besit gevind is.

“Ons is tevrede met die uitspraak en is ook bemoedig deur die toegewyde hantering van die saak deur die bevelvoerder van die Makau-polisiestasie, kolonel Thibedi. Hy het gereeld terugvoer gegee en sy getuienis in die hof was deurslaggewend,” het Pieter Rautenbach, AfriForum se algemene raadgewer vir gemeenskapstrukture, gesê.

Lees alle vorige berigte oor die De Wildt-aanval op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.