‘Geen borgtog’, hoor Mafe

Zandile Christmas Mafe (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Zandile Christmas Mafe, die man wat daarvan beskuldig word dat hy vroeg vanjaar die verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad gestig het, bly vir eers agter tralies.

Mafe is Vrydag in die Kaapstadse streekshof borgtog geweier nadat sy borgtogaansoek verlede naweek aangehoor is.

Mafe se regspan het vroeër vandag buite die hof aan verslaggewers gesê die verdediging gaan appelleer en sal selfs die Konstitusionele Hof nader om te verseker dat hul kliënt op borgtog vrygelaat word.

Adv. Nicolette Bell, waarnemende direkteur van die Wes-Kaapse Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat sal enige vorm van appèl teenstaan.

Die staat het reeds borgtog teengestaan en aangevoer dat Mafe ’n vlugrisiko inhou en geen buitengewone omstandighede aan die hof kon voorlê oor waarom hy op borgtog vrygelaat moet word nie. Volgens die staat sou Mafe se vrylating ook openbare vrede en sekuriteit ondermyn.

Bell meen die staat het ’n sterk saak teen Mafe en het die uitkoms van die borgtogaansoek verwelkom.

“Dit is ʼn eerste stap in die regte rigting om te verseker dat ons geregtigheid kry. Die volgende stap is om te verseker dat ons ons saak teen die beskuldigde bo enige redelike twyfel bewys.”

Mafe is op 2 Januarie in hegtenis geneem.

Luidens ’n eedverklaring van Mafe, wat tydens sy borgtogaansoek in die hof voorgelees is, het Mafe net ná sy inhegtenisneming aan polisielede erken dat hy die gebou aan die brand gesteek het.

Mafe het volgens die verklaring ook erken dat hy die parlement aan die brand gesteek het om te verhoed dat die staatsrede vanjaar voortgaan. Hy het ook erken dat hy met die brand wou hê dat pres. Cyril Ramaphosa moet bedank, dat Janusz Walus, moordenaar van SAKP-leier Chris Hani, vrygelaat moet word en dat elke werklose R1 500-staatstoelaag moet kry.

Die staatsaanklaer, adv. Mervyn Menigo, het in die hof aangevoer dat Mafe tydens sy inhegtenisneming op sy bors geslaan en trots gesê het: “Dit was Christmas.”

Menigo het voorts aangevoer dat Mafe petrol gekoop het voordat hy by die parlement ingebreek en daar ’n ruk lank vertoef het. Hy het daarna bokse, papier en die petrol gebruik het om die parlementgebou aan die brand te steek.

“Die motief vir die aanval vloei voort uit sy diepgewortelde politieke, ideologiese en filosofiese oortuigings en ook intense wrewel jeens die Suid-Afrikaanse regering.”

Mafe verskyn na verwagting weer op 11 Februarie in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Wat is die behepteid met borgtog in die land? Maandag brand hy parlement af, Dinsdag gevang, Woensdag in die hof dan moet hy borgtog kry. Ek weet in SA tronke wag Pappa vir jou, maar daar is kriminele optrede wat borgtog nie verdien nie. Maar dan miskien kan Dali Mpofu die ou hulp…..nee wag die ou het nie geld nie, soe Dali Mpofu is uit.

SlinkseKoljander ·

Lekker man, goeie nuus om die naweek mee te begin

Jaco ·

Interessante saak dié: as ek nou die ANC se denkpatroon volg, sou ek nou dink die brandstigter by die parlement was ‘n wit rassistiese man vol apartheid en wat reaksionêr en teen transformasie is.
En daar is die brandstigter toe sowaar een van die ANC se eie rasgenote…

annie ·

Onder eed… Die tragieste grap van die eeu… Miskien verdien Mafe se regspan ‘n Oscar vir dialoog … Die konkoksie van redes wat Mafe kamma aanvoer is deurdrenk van Zuma-verdediging. Binnekort sal nog bykom. Uiteindelik sal ‘n erge fisiese kwaal of virus opduik wat selfs Fauci sal dronkslaan… En dit moet gedoen wees… Is dié man ooit gebore?

Martie ·

Ek sal dit nou nie verstaan nie, die ou wat nou die gebou aan die brand gesteek het kry nie borg nie.
Die man wat die fietsryer doodry het nie eers aansoek gedoen vir borg nie, hy kon maar net waai!

Is dit net ek of is daar so effense dubbel standaarde hier?????

capie ·

Die redes wat die ou volgens die staat aangegee het klink meer of dit aan hom voorgesê is en hy dalk maar net ja geantwoord het. Daarby ondersteun ek die man so half en half omdat die regering net hul eie nalatigheid probeer wegsteek.

Waarnemer ·

Hierdie saak is n klug.Wie dink die regering bluf hulle…Mnr Mafe gaan oor n maand of wat gholf speel saam met Shabir en kie.

Swerwer ·

Belaglik! Zuma wat homself skuldig gemaak het aan staatskaping loop vry rond maar arme Zandile Christmas Mafe mag nie borgtog ontvang nie. Siek man siek, die ANC moet hulself skaam, maar ongelukkig is hul sonder gewetens gebore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.