Geen borgtog ná aanval op polisiebeamptes

Thabang Vincent Shakwane (Foto verskaf deur die Valke)

Thabang Vincent Shakwane (25) bly in aanhouding in verband met die poging tot moord op twee polisiebeamptes. Shakwane het Donderdag in die landdroshof in Nelspruit verskyn.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die verdagte is in hegtenis geneem deur die Valke, provinsiale speurders en misdaadintelligensie.

“Twee polisiebeamptes was op 23 Maart 2022 op patrollie naby die Ilanga-winkelsentrum in Nelspruit toe hulle ʼn verdagte rooi Volkswagen Polo met drie insittendes opgemerk het. Die motor is voorgekeer en tydens ʼn soektog het die insittendes probeer om met die saak in te meng deur omkoopgeld vir die beamptes aan te bied. Hulle het dit van die hand gewys.”

Terwyl die beamptes besig was met die inhegtenisneming, het een van die verdagtes ʼn skoot op ʼn beampte gevuur, maar hy het gemis. Terwyl die beampte op die grond was, het die verdagtes hom van sy 9 mm-dienspistool en ʼn selfoon beroof. “Die tweede beampte is ook aangeval en sy dienspistool is ook beroof voor hulle van die toneel gevlug het.”

Die Valke het op 26 Maart omstreeks 20:00 inligting ontvang oor waar die verdagtes hulself bevind. “Met hul aankoms by die toneel het hulle Shakwane aangetref. Hy is positief verbind met die saak. Daar is ook beslag gelê op die motor wat tydens die aanval op die polisiebeamptes gebruik is.”

Die ondersoekbeampte het tydens Shakwane se aansoek om borgtog getuienis gelewer wat die beskuldigde met ʼn saak van gewapende roof verbind het wat op dieselfde dag in Barberton gepleeg is. Die gewapende roof het plaasgevind voor die aanval op die polisiebeamptes.

Shakwane moet op 27 Mei 2022 weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.