Die beskuldigde in die moord op die Rustenburgse sakeman, Ben Gumbi, is in die Rustenburg-landdroshof borgtog geweier.
Die saak is tot 9 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Sibongiseni Ngubane (33) staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade.
Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat het borgtog teengestaan. Staatsaanklaer Faith Mogaki het aangevoer dat die staat ʼn sterk saak teen die beskuldigde het. Ter stawing het sy aangedui dat die beskuldigde se vingerafdrukke op die voertuig opgespoor is wat in die pleging van die misdaad gebruik is, en verder dat hy deur getuies in ʼn identiteitsparade uitgeken is.
“Die staat het ook die feit beklemtoon dat die beskuldigde vrywillig die toneel uitgewys en ʼn bekentenis afgelê het, hoewel hy in die hof aangevoer het dit was onwillekeurig gedoen aangesien hy beweer die polisie het hom aangerand.”
Ngubane is op 12 September in hegtenis geneem nadat hy in die hof in Germiston verskyn het waar ʼn afsonderlike klag van gewapende roof hom in die gesig staar en hy op borgtog van R3 000 vrygelaat is. Hy het ook ʼn hangende saak teen hom vir die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie in Alberton. Daar is borgtog van R1 000 aan hom in die saak toegestaan.
Volgens Mamothame word nog drie verdagtes gesoek in verband met die moord op Gumbi.
Gumbi, ʼn bekende sakeman in Rustenburg, is verlede maand deur twee mans buite Plato Coffee in Kockstraat doodgeskiet. Gumbi het pas by die koffiewinkel aangekom toe die verdagtes toegeslaan het.
Die verdagtes het van die toneel gevlug, maar hul motor is later verlate op die hoek van Helen Joseph- en Louriestraat gevind.
Daar behoort nie borgtog toegestaan te word vir mense wat misdade pleeg terwyl hulle alklaar op borgtog is nie. Hulle wys al klaar dat hulle gaan misdaad pleeg terwyl hulle uit op borgtog is.
Hoe kom hy weg met al die vorige kere se borgtog? Hy het mos nou bewys hy is ‘n gevaarlike krimineel wat agter tralies hoort.
Dankie. Nou net n goeie tronkstraf asb
Belaglike regstelsel . Borg bedrae vir gewapende roof en besit van ongelisenseerde vuurwapen is pateties. Huur moordenaar en die howe het hom op die gemeenskap vry laat loop.
Hoekom dra al die misdadigers maskers en vermom hulself in die hof? Toe die daad plaasgevind het was hul dapper genoeg om dit kaalvuis uit te voer.
As regsgeleerde voel ek dat die hof vorige aanklagte in gedagte moet neem voordat borgtog toegestaan word. As jy ‘n verdagte is in meer as een saak is moet jou borgtogvoorwaardes verstreng word en vir ernstige oortredings.
Sy vingerafdrukke op die voertuig was seker ook gedwonge.
Borgtog moet onder geen omstandighede vir erge misdade toegestaan word nie nog minder as daar reeds sulke aanklagte teen die persoon is
Haal daai masker af dat almal kan sien hoe lyk ‘n moordenaar! Waarom laat die howe dit toe?
Baie dankie. Nou lewenslank tronkstraf asseblief. Dis immers koelbloedige moord!!!