Geen borgtog vir man na wie Amerikaners in SA soek

Foto ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Rahul Jaiswal (40), ʼn Indiese burger wat in Ballito in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is en in die VSA gesoek word, is Maandag borgtog in die Umhlali-landdroshof geweier.

Jaiswal, wat met ʼn Suid-Afrikaner getroud is, is op aanklag van sameswering, dwelmverspreiding, geldwassery en die invoer van beheerde middels aangekeer.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Suid-Afrika het ʼn uitleweringsaansoek van die Amerikaanse regering ontvang waarin ʼn reeks aanklagte teen Jaiswal uiteengesit word.

“Daar word onder meer beweer dat Jaiswal ʼn georganiseerde misdaadsindikaat lei onder die dekmantel van [die maatskappy] Jaiswal DTO (DTO).

“Volgens die Amerikaanse federale dwelmpolisie (DEA) was DTO na bewering betrokke by die onwettige invoer en verspreiding van voorskrifmedisyne met verkeerde handelsmerke, wat vanuit Indië bedryf en aan kliënte in die VSA verkoop is,” sê Ramkisson-Kara.

Sy sê Jaiswal het tydens sy borgtogaansoek persoonlike omstandighede aan die hof voorgehou, insluitend sy huwelik met ʼn Suid-Afrikaanse burger, finansiële verpligtinge teenoor sy familie en inligting oor sy diens in Indië.

“Die staat het aangevoer dat Jaiswal se status as ʼn buitelander, sy gebrek aan toegelate werk in Suid-Afrika – en sy bande met die beweerde misdaadgroepe – aansienlike gevaar inhou en dat hy ʼn vlugrisiko is.”

Die borgtogaansoek is suksesvol teengestaan deur die adjunkdirekteur van openbare vervolging, Deneshree Naicker, en senior staatsadvokaat Naveen Sewparsat.

Die hof het bevind dat Jaiswal nie kon wys waarom sy vrylating op borgtog in belang van geregtigheid sou wees nie en het sy aansoek van die hand gewys.

Die saak is tot 26 Januarie uitgestel vir ʼn voorverhoor met betrekking tot die ondersoek na ʼn uitleweringsaansoek.

Ramkisson-Kara sê hierdie regsprosedure beklemtoon die internasionale aard van misdaad en die samewerking tussen lande om oorgrensmisdaad te pak.

“Die gedetailleerde aanklagte en die weiering van borgtog onderstreep die erns van die bewerings teen Jaiswal en beklemtoon die regskompleksiteite betrokke by uitleweringsake.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

IS SA nou die ashoop waar misdadigers n heenkome vind en hulle verwoestings werk kan uitvoer!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.