Geen borgtog vir ontvoerder wat hom as polisieman voordoen

(Foto ter illustrasie: Ichigo121212/Pixabay)

’n 23-jarige man wat ’n 30-jarige vrou op 14 September ontvoer het nadat hy homself as ’n polisiebeampte voorgedoen het, is Dinsdag borgtog in die Atteridgeville-landdroshof in Gauteng geweier.

Thabang Mokoena staan tereg op aanklag van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, die besit van ’n gevaarlike wapen en afpersing.

Mokoena en sy medepligtige, wie se naam nie bekend is nie, het die slagoffer vasgebind en vir ure aangehou terwyl hulle  ʼn losprys van R500 000 by haar broer geëis het.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Gauteng, het Mokoena die slagoffer op die dag van die ontvoering genader kort nadat sy haar kind by ’n kleuterskool in Wespark, Pretoria-Wes, afgelaai het.

“Die twee mans het ʼn Volkswagen Jetta bestuur en hulle as lede van die polisie se opsporingseenheid voorgedoen. Hulle het beweer dat ʼn Polo Vivo-voertuig, soortgelyk aan die slagoffer se motor, in verskeie rooftogte in die omgewing gebruik is.

“Die slagoffer is meegedeel dat haar motor gevolglik na die Hartbeespoort-polisiestasie vir verifikasie geneem moet word, waarna een van die mans met haar motor weggery het terwyl sy aangesê is om die Volkswagen Jetta te klim.”

Die slagoffer is egter kort daarna vasgebind en in die kattebak van die Jetta gestop. Haar ontvoerders het haar voertuig later in die Hartbeespoortdam gestort – wat op dieselfde dag deur polisiebeamptes gevind is.

Die ontvoerders het verder R500 000 vir haar vrylating by haar broer, ʼn prokureur van Pretoria, geëis.

Die polisie het inligting ontvang dat die slagoffer in Kgabalatsane in Noordwes aangehou word en haar kort daarna vasgebind in ʼn huis opgespoor.

“Mokoena was by die polisie se aankoms op die toneel by die slagoffer en in besit van ʼn speelgoedgeweer.”

Mokoena is borgtog geweier weens die ernstige aard van die oortredings en omdat nóg verdagtes na verwagting in hegtenis geneem sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JM ·

Misdadige brein wat al sy leuens agtermekaar sit om sy sieklike doel te bereik. ‘n Mens het nie meer woorde nie. Sy “buddies” in die tronk kan verder met hom afreken.

LeanetteS ·

Weet nie hoe mense dink nie… As regte Polisie jou stop, vir watter rede ook, en hulle wil jou motor neem, weier en se, jy sal agter hul aanry na die naaste Polisiestasie.. Mens klim nie by geen mens in sy motor vandag, vals Polisie of nie!

Jaco ·

Our people is darem lelik met mekaar. Wat dan nou van Black Lives Matter en human rights en ubuntu?

Marcello ·

Ek kan nie glo mense laat hulle so kul nie, as ‘n Polisieman of verkeersbeampte jou stop,(en jy twyfel) maak jou venster ‘n skrefie oop, , waardeur hy sy identiteits kaartjie van sy beroep vir jou moet gee, bel die naaste Polisie kantoor en vra of so ‘n persoon bestaan.

Yvonne ·

Sy was gemerk ….ek dink nie sy het eintlik n kans gestaan nie…arme vrou

Swerwer ·

Dankie dat hy borgtog geweier is. Die soort mens hoort nie in die samelewing nie.

Jack ·

Die kriminele is soos bedluise jy kry hulle net nie onder beheer nie. Jy moet hulle lekkerlik dood maak om te vorder maar dan is daar duisende wat hul plek inneem. Die regering sal die bunduhowe weer moet instel. So kan ons nie aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.