Geen borgtog vir pa ná peuter se moord

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Pa van Noordwes wat van die moord op sy tweejarige dogtertjie beskuldig word, is borgtog in die landdroshof in Klerksdorp geweier.

Mokete Legodi (47) staan tereg op aanklagte van moord en ontvoering nadat sy kind se lewelose liggaam vroeër vanjaar in die plafon van sy huis in Alabama naby Klerksdorp ontdek is.

Legodi het op 13 Mei, glo sonder sy vriendin se toestemming, hul kind by haar huis in Jouberton gaan haal terwyl sy vriendin in die hospitaal was.

Die familielede wat in dié stadium na die kind omgesien het, het aangeneem dat Legodi haar later sou terugbring. Hy het egter ontken dat hy die kind gaan haal het toe die familielede hom daaroor uitgevra het.

Die ma is die volgende dag (14 Mei) uit die hospitaal ontslaan en het dadelik na haar kind begin soek. Daar was geen teken van die dogtertjie nie en sy is op 15 Mei by die polisiestasie in Jouberton as vermis aangemeld.

Legodi is op 16 Mei in hegtenis geneem op aanklag van ontvoering nadat hy versuim het om vir polisiebeamptes te sê waar die kind is.

Die beskuldigde se bure het op 17 Mei ’n stank vanuit sy huis geruik. Die bure het ondersoek ingestel en die kind se liggaam versteek in die plafon gekry.

Die polisie is ontbied en ’n klag van moord is teen Legodi aanhangig gemaak.

Die staat het borgtog teengestaan.

Staatsaanklaer Riekie Kriel het gedurende Legodi se borgtogaansoek gesê die staat beoog om vir ’n maksimum vonnis te pleit, sou hy skuldig bevind word. Kriel meen die moontlikheid van só ’n swaar vonnis sal Legodi aanspoor om te vlug.

Kriel het ook aangedui dat Legodi sy vriendin en die ma van sy kind uit die gevangenis genader het, wat daarop dui dat hy waarskynlik met staatsgetuies kontak sal maak as hy borgtog toegestaan word.

Volgens Kriel is al die nodige ondersoeke na die kind se moord byna afgehandel en die staat sal gereed wees om Legodi te verhoor.

Legodi moet weer op 23 Oktober in die hof verskyn. Hy bly tot dan in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Hoe doen enige pa dit aan sy eie kind? ‘n Onskuldige, 2 jarige kleine dogtertjie….

Helene ·

PA???? nee wat dis gin Pa nie, dis net ‘n sperm-donor
Siek verby!!!

Skappie ·

Weet nie wat in so ‘n ouer se kop aangaan, om hierdie aan ‘n onskuldige kind te doen nie. Sterkte aan hierdie mamma.

Frank John ·

Alle gevaarlike en gereelde kriminele moet borgtog geweier word tot hul verhoor klaar is en hulle skuldig of onskuldig is. Ek sien moordenaars se eerste ding binne dae na hul gevang word doen eerste aansoek vir borgtog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.