Geen borgtog vir polisievrou ná man se skietdood

(Foto: David von Diemar/Unsplash)

ʼn 47-jarige polisiesersant van Soshanguve wat van die moord op haar man beskuldig word, is Vrydag borgtog geweier.

Kate Lindiwe Hlongwane, verbonde aan die Dube-polisiestasie se eenheid vir sigbare polisiëring, staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade ná die skietdood van haar man, Russel (40).

Russel was ook die pa van Hlongwane se drie minderjarige kinders.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng, sê die egpaar het glo op 28 Januarie by hul huis in Soshanguve stry gekry. Tydens die rusie is Russel verskeie keer met sy vrou se dienspistool geskiet.

ʼn Buurman wat die skote gehoor en daarop gereageer het, het Russel glo op die grond in die egpaar se erf aangetref. Hy het hom na die Akasia-hospitaal gehaas waar Russel enkele ure later dood is.

Hlongwane is dieselfde dag nog in hegtenis geneem. Die saak is ook na die onafhanklike polisiedirektoraat (Opod) verwys.

“Hlongwane het in die hof ontken dat sy haar man opsetlik doodgemaak het, en gesê dat die vuurwapen afgevuur is toe sy en haar man met die wapen gestoei het. Sy het die hof gevra om haar in die lig hiervan op borgtog vry te laat aangesien sy die primêre versorger van hul drie kinders is,” het Mahanjana gesê.

“Staatsadvokaat Tumelo Letaoana het borgtog teengestaan en aangevoer dat sy haarself van die verantwoordelikheid onthef het om haar kinders te versorg; en dat die kinders nou in die sorg van die slagoffer se familie is.”

Letaoana het verder gesê dat Hlongwane haar man se moord beplan het.

Die advokaat het ʼn stemboodskap aan die hof gespeel waarin ʼn vrou, skynbaar Hlongwane, aan ʼn vriendin sê dat sy “moeg is vir haar ontrou man” en dat sy nou haar mag gaan gebruik.

Die landdros het met die staat saamgestem en Hlongwane borgtog geweier.

Die saak is tot 29 April vir verdere ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Hoe is dit dan mense huistoe gaan met hulle diesn pistool…. soveel kan verkeerd gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.