Geen borgtog vir Prasa-bestuurder

(Argieffoto: Facebook)

Die bestuurder van ʼn depot van die Passasierspooragentskap (Prasa) in Germiston wat klaarblyklik toerusting by die depot gesteel het, is Donderdag in die Germiston-landdroshof in Gauteng borgtog geweier.

Pontsho Moyo (36), die bestuurder van die Elsburg-depot in Germiston, is ʼn week gelede in hegtenis geneem.

Makhosini Mgitywa, woordvoerder van Prasa, sê Moyo het na bewering toerusting bestel en gevra dat dit by Edgar Gumede (45), ’n voormalige werknemer van Prasa wat nou sy eie treintoerustingmaatskappy besit, se perseel afgelewer moet word.

Gumede is onder streng voorwaardes borgtog van R40 000 toegestaan. Hy mag nie die land verlaat of met enige staatsgetuie kontak maak nie.

Mgitywa sê Prasa het die borgtogverhoor se uitspraak verwelkom. “Dit is goed om te sien dat die hof die aanklagtes teen die beskuldigde as ernstig beskou,” sê hy.

“Volgens die hof is die aanval op Prasa se bates en infrastruktuur ’n aanval op die land en pendelaars met ’n lae inkomste wat op Prasa staatmaak vir bekostigbare vervoer.”

Mgitywa sê Prasa beskou die uitspraak as ’n belangrike mylpaal in die stryd teen die diefstal en vandalisme van die agentskap se infrastruktuur, wat die afgelope paar jaar toegeneem het. Hy sê Prasa werk steeds saam met die polisie en ander belanghebbendes, insluitend die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), om te verseker dat sy infrastruktuur en netwerk beskerm word teen dade van vandalisme en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Die groot kokkedore …kom hulle weg met die miljoene der miljoene wat hulle onregmatig verkwansel het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.