Geen borgtog vir ‘seksrabbi’

Eliezer Berland Foto: ANA

Eliezer Berland Foto: ANA

Die Israeliese voortvlugtige rabbi Eliezer Berland se aansoek om borgtog is Donderdag in die Randburg-landdroshof afgekeur.

Berland (78), leier van die Shuvu Bonim Hassidic-sekte, het glo in 2012 uit Israel gevlug nadat vroulike volgelinge hom van seksuele misdrywe beskuldig het. Hy het in die verlede owerhede in ander lande ontvlug om uitlewering na Israel te voorkom. Hy het al in Amerika, Switserland, Marokko, Nederland en Zimbabwe gebly saam met ʼn groep getroue volgelinge.

Hy is verlede jaar in Amsterdam, Nederland in hegtenis geneem, maar het gevlug voor hy aan Israel uitgelewer kon word. Hy het na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy vroeër hier skuiling gesoek het toe hy in 2014 uit Zimbabwe geskop is.

Landdros Pravena Raghunandan het gesê daar is geen bewyse dat Berland se lewe in gevaar was terwyl hy in Nederland was nie – dit was die rede wat hy aangevoer het waarom hy sy borgtogvoorwaardes verbreek en uit die land gevlug het. Volgens haar is Berland ʼn “vlugrisiko” en kan hy nie vrygelaat word nie. Sy het gesê die hof is ook besorg dat Berland se Ivoriaanse paspoort ʼn Suid-Afrikaanse permit het wat reeds verval het – dit beteken hy is onwettig in die land.

Raghunandan het beslis dat die voorvlugtige rabbi in aanhouding moet bly terwyl hy wag op die uitspraak deur die minister van justisie of hy aan Israel uitgelewer moet word of nie.

Themba Langa, vir Berland, het vroeër daarop gewys dat die saak reeds 21 dae lank sloer en hou vol die staat se bewering, dat Berland se dokumentasie nie meer geldig is nie, vals is. Langa het Interpol ook daarvan beskuldig dat “ʼn vervalste Israelse paspoort op sy kliënt geplant is”. “Rabbi Berland het niks met die vervalste paspoort te doen nie,” het hy aan die hof gesê.

Volgens Langa is sy kliënt bereid om R250 000 borgtog te betaal en ʼn opsporingstoestel te dra.

Staatsaanklaer Nerisha Naidoo het egter gesê ondanks Berland se gesondheidsprobleme en gevorderde ouderdom bly hy ʼn vlugrisiko. “Die enigste afleiding wat die staat kan maak is dat hy wil vlug. Hy werk nie alleen nie. Dit sal ʼn risiko wees om hom op borgtog vry te laat.”

Berland bly in aanhouding tot ʼn besluit gemaak is oor sy uitlewering. Suid-Afrika en Israel het nie ʼn uitleweringsooreenkoms nie.

Lees alle vorige berigte oor Eliezer Berland op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

humor ·

Kry tog maar die dinge in plek sodat die man uitgelewer kan word en in sy eie land vehoor kan word. Glad nie vir my goed om sy patetiese gewaad te aanskou nie.

Lance ·

Kan iemand net die oom help …terug na sy land ….shu shu

Leendert van Oostrum ·

Afrikaans vir “Hassidic” is “Hassidiese”.

John ·

Die’ ou oom moet huistoe, en vinnig! Hy speel goed toneel. Ons wil nie vir maande nog nuus oor hom lees nie. Hier is genoeg dwaashede aan die gang. Ek dink hy slaan almal in die tronk se asem ook weg met al sy kaskenades.

Lance ·

Belasting betaler huisves nou oorsese krimenele ook nog ….SA is die plek vir crime met n polisie diens wat so onbevoeg is waar helfte op betaalte verlof sit …en nou moet die nuwe rekrute by die ouer mense leer met die verkorte opleiding …..asb die oues is juis so pateties …..n gekkeparadys

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.