Geen borgtog vir vermoorde se vervreemde man

Vicki Terblanche (Foto: Facebook / Lala Fourie)

Die vermoorde Vicki Terblanche se vervreemde man is Vrydag borgtog in die landdroshof in Gqeberha (Port Elizabeth) geweier.

Arnold Terblanche (53) kon geen buitengewone omstandighede aan die hof voorlê waarom hy op borgtog vrygelaat moet word nie. Hy word van ’n skedule 6-misdryf aangekla.

Die landdros het voorts bevind dat daar ’n sterk moontlikheid is dat Terblanche met bewyse sal inmeng sou hy borgtog toegestaan word, sê Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Terblanche word saam met Reinhardt Leach, Vicki se kêrel ten tyde van haar dood, en Dylan Cullis, ’n vriend van Leach, van haar moord aangekla.

Daar word beweer dat hulle saamgesweer het om haar te vermoor.

Arnold Terblanche (Foto: Facebook)

Leach en Cullis het albei vroeër hul borgtogaansoeke laat vaar. Dié twee vriende is in hegtenis geneem kort nadat Vicki se liggaam op 23 Oktober in ʼn vlak graf in ʼn oop veld in Greenbushes gevind is. Terblanche is meer as drie weke later by sy huis in Mill Park, Gqeberha, in hegtenis geneem.

Leach was ten tyde van die moord in ʼn verhouding met Vicki en het saam met haar gewoon.

Daar word beweer dat Vicki op 18 Oktober met ’n skedule 6-medikasie bedwelm is voordat sy met ’n kussing versmoor is. Sy is ook van verskeie items, waaronder bankkaarte, juweliersware en ’n selfoon, beroof.

Daar is toe glo dwelms en ander verdowingsmiddels by haar huis in Newton Park geplant waar al die beweerde misdade plaasgevind het. Daar word beweer dat die dwelms geplant is om ’n indruk te skep dat Vicki ’n oordosis dwelms geneem het.

Die saak is tot 28 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petra ·

Dit is vreeslik ! Hoeveel mans was nodig om haar te vermoor. Ek hoop hulle almal sien nooit weer die son buite die tronk nie. Dit is regtig hartverskeurend. R.I.V. Vicki *sad*

Marius ·

Hoop hul kry die swaarste straf moontlik en mag hul nooit weer die buitekant van ‘n tronk sien nie.

Rooikopheks ·

As sy aan ń oordosis dwelms dood is, hoe kon sy haarself begrawe het. Die samesweerders van haar moord is seker baie dom.

AWV ·

Nee wat jong, hulle reken seker dat almal gaan daai ongelukkige oordosis dan self begrawe glo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.