Geen borgtog vir ‘wêreldburger’ Iqbal Sharma

Iqbal Sharma in die beskuldigdebank. (Foto: Verskaf)

Iqbal Sharma, voormalige raadslid van Transnet en sakevennoot van die Gupta-familie, is vanmiddag borgtog in die Bloemfonteinse landdroshof geweier.

Dít nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat (OD) in die hof aangedui het dat Sharma ʼn vlugrisiko is en hom as ’n “wêreldburger” bestempel het.

Volgens die direktoraat het Sharma versuim om bekend te maak dat hy tussen 26 Augustus 2016 en 8 Desember 2016 altesame R264 459 241 aan Issar Global in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) oorgedra het.

Sharma het sedert 2010 meer as 100 vlugte van en na lughawens in die VAE gehaal.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat, sê die hof het ook gehoor dat die hoëprofiel-sakeman se Suid-Afrikaanse bates maar 10% van sy totale bates beslaan.

“Sharma is ʼn burger van die wêreld en het verbintenisse met verskeie buitelandse lande. Hy praat ook drie verskillende internasionale tale waaronder Frans, Oerdoe en Hindi,” sê Seboka.

Maroela Media het vroeër berig Sharma, Peter Thabethe, voormalige Vrystaatse hoof van die departement van landelike ontwikkeling, en twee ander amptenare is verlede Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem in verband met die omstrede Estina-suiwelprojek.

Sharma se medebeskuldigdes is al drie op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Daar is altesame 17 beskuldigdes wat in die saak aangekla word, onder wie vier Gupta-familielede wat tans in die buiteland sit. Dit sluit in Atul Gupta, Rajesh Kumar Gupta, Chetali Gupta en Arti Gupta.

Volgens die klagstaat is sowat R25 miljoen tussen 1 November 2011 en 28 Februarie 2012 deur die departement aan die maatskappy Nulane Investments 204 betaal om ʼn ondersoek te doen om te bepaal of die Estina-suiwelprojek uitvoerbaar is. Sharma is ʼn direkteur van Nulane.

Nulane het die opdrag aan ʼn maatskappy, Deloitte Consulting (Edms.) Bpk., wat die ondersoek teen ʼn bedrag van R1,5 miljoen gedoen het, uitgekontrakteer.

Dinesh Patel, die vyfde verdagte in die saak, Sharma se swaer en ʼn verteenwoordiger van Nulane Investments, sal weens gesondheidsredes volgende week in die hof verskyn.

Al die beskuldigdes sal na verwagting op 5 Julie weer saam in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Seboka sê die direktoraat het sy ondersoek afgehandel en is gereed om die dossier aan die verdediging oor te gee om so spoedig moontlik met die verhoor te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

sopbeen ·

Nthuli Madonsela het hierdie ding aan die gang gesit. Mag sy ons eerste vroue president word eendag

Spook ·

Puik! Sit seun, die mense wil graag n paar woorde met jou spreek oor die kwessie van n paar randjies wat so n wyle terug verdwyn het.

JohanR ·

Van ‘n paar luukse huise na ‘n tronk sel met net pap en ‘n eier vir ontbyt. Wens Zuma en die Guptas was daar saam met hom.

Francois Le Cochon ·

Eiers is net op Sondae. Anders is dit pap en kool. Glo baie voedsaam. Die wat weet se^ dat dit so 10 jaar neem om aan gewoond te raak.

Dup ·

Skelmstreke,diefstal,bedrog en korrupsie.Nie lank gelede nie het die regering in die parlement ontken dat daar so iets soos staatskaping is en dat die Guptas en andere eintlik baie goeie vriende is wie die ANC aktief ondersteun.Nadat die korrupsie sweer oopgebars het,het hulle steeds verskonings probeer maak.Nou sit ons met biljoene wat verdwyn het en nog is het einde niet.

melaney ·

Daar is ‘n video in omloop van sy peperduur huis in Sandton. Die ‘paleis’ is blykbaar een van die huise wat verkoop sal word om geld te verhaal wat hierdie man skuld. Ek sou graag vir hom en sy vrou ‘n video wou wys van my skoon-maar-netjiese twee slaapkamer huis in ‘n kompleks. My huis is met jare se harde werk gekoop en ek slaap rustig elke aand. My hart is op die regte pad.

Catherina ·

Wie is volgende? Defnitief nie Guptas! Net n raps oor vingers en in ander pos gesit. What’s new? South Africa, thy name is corruption!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.