Geen Britse kontrakte vir dié wat by staatskaping betrek is

Die geregtelike kommissie wat staatskaping ondersoek se embleem. (Foto: Gertrude Makhafola/ANA)

Die Britse regering het die globale konsultasiemaatskappy Bain & Company verbied om vir die volgende paar jaar vir enige regeringskontrakte te tender nadat sy rol in staatskaping in Suid-Afrika aan die lig gekom het.

ʼn Woordvoerder van die Britse kabinet sê Bain word vir die volgende drie jaar verbied om mee te ding in tenders vir sentrale regeringskonsultasiewerk. Dié verbod is sedert Januarie vanjaar van krag.

“Nadat Bain se rol in die beweerde staatskaping en korrupsie deur die voormalige regering van Suid-Afrika hersien is – met inagneming van die bewyse en gevolgtrekkings wat deur die kommissie na staatskaping gemaak is – het die minister van regeringsdoeltreffendheid Bain skuldig bevind aan wangedrag.”

Bain is in die 2015-’16-boekjaar deur die regering aangestel om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) reg te ruk.

Die aanvanklike kontrak sou slegs vir ses weke duur, teen ʼn koste van sowat $150 000 (R2,5 miljoen in die huidige waarde). Dit is egter vir twee jaar uitgerek, teen ʼn koste van meer as $9 miljoen (R150 miljoen).

Hoofregter Raymond Zondo het in sy staatskapingverslag gesê dat Bain in “sameswering” met oudpres. Jacob Zuma gewerk het. Zuma was volgens die kommissie by ʼn skema betrokke om die belastingdiens te ondermyn.

Die Britse regering het gesê hy het die besluit geneem “in die lig van Bain se verantwoordelikheid as ʼn wêreldhandelsmerk vir sy Suid-Afrika-afdeling en die maatskappy se versuim om die feite en omstandighede van sy betrokkenheid uit te klaar”.

“Brittanje ondersteun die Suid-Afrikaanse owerhede se deurlopende pogings om korrupsie aan te pak en aanspreeklikheid hiervoor te bevorder,” het die regering bygevoeg.

Bain het gesê hy is “teleurgesteld en verras” deur die Britse regering se besluit.

Die maatskappy voer aan dat hy “onakkuraathede” in die minister se kennisgewing sal uitwys en dan moontlik sy opsies hersien sodat die besluit heroorweeg kan word.

Bain het voorheen ontken dat hy die SAID opsetlik benadeel of staatskaping ondersteun het.

Dié Amerikaanse maatskappy het sedert 2018 kontrakte van sowat $75 miljoen vir die Britse regering bekom – tweederdes daarvan is gegrond op Brexit-verwante werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JM ·

Die wiel van geregtigheid draai en sal ook draai ten opsigte van Jacob Zuma, wat dink dat hy verantwoordelikheid sal ontduik deur sy vertragingstaktiek.

Herman L ·

Dit is ‘n westerse konsep en sal moeilik deur ANC kaders aanvaar word. As jy jammer gesê het, is alles weer reg.

Jack ·

In zuma se geval sal die dood die gelykmaker wees. Moenie asem ophou vir n verhoor nie. Dalk is die kremlin medisyne se kwaliteit soos die van rusland swak.

Suzette ·

Bain teleurgesteld en verras – seker omdat hulle uitgevang is. SA is enige krimineel se droom want vir die in beheer hoef jy net ‘n paar note te flits en hulle val oor hulle voete om by die “trog” te kom…..

Johann ·

Meanwhile back at the ANC KADER RANCH….met waarskeinlik nog meer bewyse, gebeur niks? Of is die “finansierinhs ooreenkoms” met die ANC nog nie afhehandel nie? Absolute klap in die gesig van die RSA “regering”! En presies wat en hoe hulle die sg vergrypers en korruptes gaan hanteer! SKANDE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.