Geen Comrades-marathon vanjaar nie

Argieffoto.

Die gewilde Comrades-marathon is amptelik weens die wêreldwye Covid-19-pandemie gekanselleer. Dit is die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat organiseerders genoop word om só ’n drastiese stap te neem.

Die organiseerders het vroeër, ten spyte van druk deur die regering en Atletiek Suid-Afrika, aangedui dat die wedloop nog soos beplan in Junie sou voortgaan. Die marathon is toe verlede maand amptelik uitgestel. Vandag het die doodsklok egter finaal vir vanjaar se wedloop gelui.

Aleck Skhosana, president van ASA, het in ’n verklaring gesê dat dit ’n uiters moeilike besluit was om die ikoniese wedloop te kanselleer.

“Met die wedloop sy ryke geskiedenis, nasiebou-eienskappe en die geweldige ekonomiese impak, sou dit onvanpas gewees het om vroeër tot hierdie beslissing te kom. Ons glo egter dat ons gesamentlik die regte besluit geneem het om die gesondheid en veiligheid van alle betrokkenes te verseker,” het Skhosana gesê.

Die voorsitter van die Comrades-marathonvereniging, Cheryl Winn, het op haar beurt die jongste verwikkelinge betreur.

“Ons het aanvanklik gehoop om die wedloop na ’n datum nie later as die einde van September uit te stel nie, maar helaas, dit lyk nie of dinge rakende Covid-19 in die komende maande gaan verbeter nie.

“As vereniging is dit ons plig om die gesondheid, veiligheid en welsyn van ons atlete, vrywilligers en belanghebbendes ons prioriteit te maak. Daarom is dit met hartseer dat ons nie vanjaar se wedloop kan aanbied nie,” het sy gesê.

  • ’n Rits ander Suid-Afrikaanse wedlope, waaronder die Twee Oseane- en Loskop-marathon, het al weens Covid-19 in die slag gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilhelm ·

Dankie tog, nou het ons sekerheid. Ek sien dat die bestuur vir die atlete hulle “goodie pack” wil aanstuur. Ek het nie betaal vir ‘n “goodie pack” nie. Ek het ingeskryf vir deelname. Ek stel voor dat ons inskrywings net so oorgedra word na volgende jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.