Geen DNS-monsters nog vanjaar verwerk

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Tydens Dinsdag se vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het dit aan die lig gekom dat die verwerking van meer as 172 000 DNS-monsters agterstallig is. Boonop is nie ʼn enkele monster tot dusver in Januarie of Februarie verwerk nie.

Die nasionale raad vir forensiese toesig en etiek (die sogenaamde DNS-raad) het vandag voor die komitee verskyn.

Die komitee het gehoor dat instandhoudingskontrakte vir sensitiewe toerusting nie hernu is nie en hoewel die tekort aan verbruiksgoedere en reagense – wat noodsaaklik is vir die ontleding van DNS – getakel word, is die probleme daarmee nog nie ten volle uitgestryk nie.

Volgens Andrew Whitfield, DA-LP en lid van die portefeuljekomitee, was daar in November reeds meer as 117 000 onverwerkte DNS-monsters. Daar kan na verwagting teen einde Maart sowat 200 000 DNS-toetse uitstaande wees.

“Die agterstand sou nie die nasionale forensiese wetenskaplaboratorium in die gesig gestaar het as die polisie nie die verskaffingskettingproses verkeerd bestuur het nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat die elektroniese registerstelsel van die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium glo maande lank al buite werking is wat die oorhandiging en verwerking van DNS-toetse, in onder meer verkragtingsake, vertraag het.

“Die DA het destyds al sy kommer oor die stelsel uitgespreek en gevra of die polisie se omkeerplan realisties is. Dié waarskuwings is geïgnoreer en vandag versamel die nasionale forensiese wetenskaplaboratorium meer DNS-monsters as wat dit die vermoë het om te verwerk.”

Die DA het verlede jaar genl. Khehla Sitole, polisiekommissaris, versoek om vennootskappe met private laboratoriums aan te knoop om dié agterstand te help uitwis. “Dit lyk egter asof hierdie versoek op dowe ore geval het.

“Hoewel misdaad ʼn ernstige probleem in Suid-Afrika is, word daar van die polisie verwag om dié stryd met sy hande agter die rug te stry. DNS-toetse is uiters noodsaaklik vir die geslaagde vervolging van misdadigers en die kwessie verdien ʼn dringende oplossing,” sê Whitfield.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AJ ·

Hoekom is ek nie verbaas nie…. Sitole kort net twee h’s in sy van, dan sal dit ook n korekte beskrywing wees van hom. Almal doen mos maar soos hulle wil, GEEN dissipliene…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.