Geen e-tolhekke vir Wes-Kaap

Grafika: Sanral

Grafika: Sanral

Die voorgestelde N1/N2 Wynland-tolprojek in die Wes-Kaap gaan van tradisionele tolhekke gebruik maak, en nie e-tolhekke nie, het Sanral Dinsdag gesê.

“Motoriste sal moet stop en betaal voordat hulle verder kan ry,” het Tiago Massingue, ʼn projekingenieur, aan Sapa gesê. Hy het gesê ʼn e-tolstelsel, soos wat in Gauteng gebruik word, is slegs doeltreffend op paaie wat ʼn groot hoeveelheid verkeer moet hanteer.

Volgens Massingue maak nagenoeg 220 000 voertuie daagliks van die Ben Schoeman-snelweg gebruik. “Dit sou onprakties wees om elke voertuig te laat stop en tolgeld te betaal,” het hy verduidelik.

Ongeveer 52 000 tot 160 000 voertuie maak daagliks van gedeeltes van snelweë in Kaapstad gebruik. “Indien die verkeersvolume drasties toeneem, sal ʼn e-tolstelsel in werking gestel word.”

Die voorgestelde tolpad op die N1 strek in die weste van die R300-wisselaar tot by Sandhills. Die N2-gedeelte van die voorgestelde tolpad strek in die weste van die R300 tot by Botrivier. Volgens ‘n diagram op Sanral se webwerf sal 106km van die N1 en 70km van die N2 deur die projek geraak word indien dit sou voortgaan.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het verlede jaar in Mei ʼn interdik aan die stad Kaapstad toegestaan dat die projek nie moet voortgaan nie, hangende die finale uitspraak oor die stad se hersieningsaansoek.

Massingue het gesê hulle het nog nie ‘n kontrak met ‘n voornemende kontrakteur aangegaan nie, in afwagting van die uitspraak. – SAPA

Lees ook:
Rooi lig vir Wynland-tolprojek
Geen behoorlike besluit oor Wynland-tolprojek
Kaapse e-tol: Stad soek dokumentasie
Nóg tolpaaie glo beplan
DA gaan Kaapse tolprojek beveg
Tolhekke glo “anders” in Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.