Geen einde aan Kaapse brand in sig

Die brand woed steeds weerskante van die R44 tussen Rooiels en Gordonsbaai. Foto: Facebook

Die pad tussen Gordonsbaai en Rooiels suidwes van die Kaapse Skiereiland is steeds gesluit terwyl die Stad Kaapstad die bergbrand met helikopters probeer beheer.

Die brand het reeds op Nuwejaarsdag aan die Overbergkus begin, vermoedelik toe ʼn inwoner ʼn fakkel in die gebied afgevuur het.

Clarence-rylaan (R44) is reeds sedert Sondag gesluit ná die brand noordwaarts uit die Overstrand-munisipaliteit se gebied tot in dié van die Stad Kaapstad versprei het, het Theo Layne, woordvoerder van die Kaapse brandweer, Woensdagaand aan Maroela Media gesê. Motoriste word aangeraai om ompaaie te gebruik.

Die brand het intussen na die opvangsgebied van die Steenbrasdam heelwat nader aan Gordonsbaai versprei, sê hy. “Ons fokus die meeste van ons hulpbronne daar met ʼn kleiner span wat langs die R44 werk waar die brand van die berg af tot by die strand woed.”

Layne sê die Suidwes-Kaap loop elke somer gevaar van verspreide veldbrande. “Enige brand wat teen die berghange voorkom, is moeilik om te bedwing weens die gebrek aan water teen die berg en die ontoeganklikheid van so ʼn gebied.”

Selfs al kan brandbestryders ʼn bergbrand te voet bereik, is dit feitlik onmoontlik om genoeg water met hulle saam te neem om die vlamme te blus, sê hy.

Daarom het die brandweer Dinsdag die bergbrand in ʼn ontoeganklike gebied met waterbomme van drie helikopters probeer beheer. Woensdag sal hulle twee helikopters gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanvz ·

My hart bloei vir die brandskade in die Overberge. Nou wonder ek of die natuurkundiges nog steeds die opinie huldig dat fynbos het brand nodig? As kind en grootmens het ek die berge in die afgelope 70 jaar sien afbrand. Reuse protea bosse is jaar vir jaar tot as verbrand en indringer plante het dan lustig oorgeneem wat dan weer tot groter brande gelei het. Ek hoor niks meer van die natuurkundiges nie of is daar nou ander opinies vir die groot brande? As dit dan nog so is dat fynbos brande nodig het waarom dan die groot moeite en onkoste (en groot lewens risiko)? Laat dit begaan en beskerm dan net eiendom.

Anoniem ·

BID vir REËN ! ‘n Wonderwerk is moontlik Glo en Vertrou NET Help BID asb.

Ella ·

Ek het een middag op RSG gehoir Dave Pepler (met apalogie aan hom)-gesê brand een keer in 11 jaar kan nog aanvaar word maar elke tweede of derde jaar is baie skadelik.
Al is die ou wat dit (vermoedelik) begin het in aanhouding kan niks die skade wat hy die natuur berokken het nie herstel word nie.
Ek ry elke jaar of twee Clarenceweg as ek in die Kaap kuier en die berge tussen Rooiels en Bettysbaai sal nooit weer volkome herstel want die natuurlike plantegroei is onherstelbaar vernietig weens te veel brande.
Ek stem saam met Johanvz hierbo want dit is my waarneming ook.
My hart is seer vir die natuur en die wild
wat vasgevang word.
Ek wens mense wil ophou praat van die “brandseisoen”. Dit is nie n natuurlike gebeurtenis. Die mens se hand is altyd betrokke by die verskriklike skade.

Dries du Toit ·

Daar word n video verspry van n man in trane wat se hy sien hoe mense die veld aan die brand steek. Wat is die storie

Joon ·

Die natuur kan in n mate Nog herstel, maar die arme wilde diere, hoe en waarheen. Die bokkies en wilde diere is ook al uitgeroei en dit deur selfsugtige mense wat net hulle eie geluk en plesier soek. Betreur die brande

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.