Geen einde in sig vir staking in die Baai

Foto: Raahil Sain/ANA

Munisipale werkers in Nelson Mandelabaai het Woensdag in groot getalle buite die stadsaal bymekaargekom.

Die werkers eis onder meer terugbetaling vir lang diens. Strate in die metro is besaai met vullis nadat werkers vroeër begin staak het. Die staking het tot gevolg dat vullis nie verwyder word nie en inwoners is versoek om hul rommel self na vullisterreine aan te ry.

Die staking is tydens die burgemeesterskomitee se vergadering bespreek, maar daar kon nog nie ʼn ooreenkoms tussen die metro en vakbonde bereik word nie.

Foto: Raahil Sain/ANA

Johan Mettler, stadsbestuurder, het gesê hulle is in gesprek met vakbonde maar dat die metro onder geen verpligting is om die terugbetaling te doen soos beweer word nie.

“Enige ooreenkoms sal eers voor die raad moet dien aangesien die raad tydens ʼn vorige geleentheid beslis het dat terugbetaling vir lang diens nie betaal sal word nie.”

Volgens Mettler het die metro met ʼn proses begin by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en fasiliteer die kommissie die voortgesette gesprekke.

Foto: Raahil Sain/ANA

Mettler het die hoop uitgespreek dat indien ʼn ooreenkoms bereik word, normale dienste hervat sal word totdat die besluit voor die raad kan dien.

“Ons wil hê die staking moet so gou as moontlik beëindig word en het geen belang daarby om die saak uit te rek nie. Ons het reeds voor die staking met die vakbonde in gesprek getree en ek dink daar is op ʼn staking besluit om druk op ons te plaas.”

Annette Lovemore, lid van die burgemeesterskomitee, het gesê die metro sal aansoek doen om ʼn interdik om te verseker dat die reëls vir ʼn staking nagekom word, eiendom nie beskadig word nie en mense nie gedreig of geïntimideer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chrisjan ·

As ons dieselfde hoeveelheid energie kon aanwend om dinge in ons pragtige land op te bou, sou dit sowaar die paradys kon wees!

Eish ·

Mens moet maar versigtig wees oor die metodiek wat jy jou stemvee aanleer in die stryd om verandering.

jaco ·

die probleem lê by regstellende aksie en vakbonde. Al beheer die DA ook ‘n stadsraad, het hulle maar min beheer oor amptenare wat deur regstellende aksie aangestel is, SONDER inagneming van hulle kwalifikasies en ondervinding (selfs die DA word VERPLIG om hierdie wette toe te pas) en die amptenare wat aangestel word is in vakbonde wat dikwels deel is van COSATU, wat weer in alliansie is met die ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.