Geen eis tot dusver ingedien ná veghond-voorval

Dupuo Kokolosi (47) is erg vermink nadat sy deur drie pitbulls verskeur is. (Foto: Verskaf)

Dupuo Kokolosi (47) het glo nog nie ʼn operasie ondergaan nadat sy twee weke gelede deur drie Amerikaanse veghonde (pitt bull terriers) verskeur is nie. Die regsverteenwoordiger wat Kokolosi se dogter bystaan het intussen begin om inligting oor die voorval in te vorder, met die oog op moontlike regstappe.

Volgens Kokolosi se dogter, Patricia (Nunu) Modise, is haar ma die afgelope naweek uit die Covid-19-saal in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal na die hoësorgeenheid geskuif. Dit is nie duidelik wanneer sy die koronavirus opgedoen het nie. Modise sê dokters het die operasies uitgestel totdat haar ma van Covid-19 herstel het.

Kokolosi, ʼn huiswerker, sal na verwagting verskeie operasies moet ondergaan nadat haar neus, lip, oor en wang onder meer in die aanval afgeruk is. Sy het ook beserings aan haar oog, been en arm opgedoen. Die voorval het by haar werkgewer, Chandré van der Linde, se huis in Potchefstroom plaasgevind.

“Dit gaan oukei met haar. Sy kan praat, maar die pyn is nog daar,” het Modise gesê.

Sy kon nie bevestig wanneer Kokolosi die eerste operasie sal ondergaan of wat dit behels nie.

Vidette-Sigred Roux, ʼn prokureur wat Modise bystaan, sê geen eis is tot dusver teen Van der Linde of enigeen ingedien nie.

Sy is tans besig om inligting in te samel, maar sê dat sy al ʼn week lank sukkel om met Van der Linde of haar regsverteenwoordigers kontak te maak.

Intussen het Roux ʼn brief aan die hospitaal en LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, gestuur om Kokolosi se toestand te bevestig.

Roux versoek onder meer inligting oor Kokolosi se fisieke en geestelike toestand, en of sy in staat is om besluite te kan neem en vrae te beantwoord.

Sy het egter nog nie terugvoer ontvang nie.

Maroela Media het verlede week berig dat ʼn Back-a-buddy-fonds gestig is om Kokolosi, die broodwinner in haar gesin, met mediese onkoste en ander uitgawes by te staan. Meer as R41 800 is tot dusver ingesamel.

Die polisie ondersoek onder meer die aanhou van gevaarlike honde.

Niemand is tot dusver in verband met die voorval aangekla nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Swerwer ·

Ag asseblief, dit bly Dupuo Kokolosi se keuse, nie haar dogter s’n om regstappe te doen. Iewers moet hierdie nonsens gestop word waar die “kinders” septer swaai.

George ·

Haar kinders kan namens haar intree. As dit my ma was, sou ek nie eens twee keer gedink het nie.

Wondermaarnet ·

Presies. Die arme vrou lê in ‘n hospitaalbed en hoe moet sy ‘n eis indien? Hê bietjie simpatie. As dit ek was, sou ek dankbaar wees my kinders wil help.

Anel ·

Nou weet hulle nie waar sy die virus opgedoen het nie!!! Wat ‘n grap!! In die hospitaal waar sy nou al ‘n hele ruk is, natuurlik. Al so moeg vir virusstories. Vergeet van die simpel virus en gaan normaal aan.

George ·

Se dit vir almal wie geliefdes aan die “simpel virus” afgestaan het.

Agtogwatnog ·

Ek wil graag verneem waar die honde gebruik was in gevegte. Persoonlik is ek nie n groot ondersteuner van die spesifieke honde ras nie, maar om opskrifte te plak met sensasie en misleidende hoof opskrifte is snert. Pitbull nie veg hond nie.

VaalDonkie ·

Vrydag toe skrywe iemand op ons buurt se Facebook groep ons moet asseblief op die uitkyk wees vir haar Rottweiler wat uitgekom het. Ek het maar liewer niks geantwoord nie, maar loop sekermaak my haelgeweer is gelaai (toemaar ek het ‘n Artikel 13 lisensie en mag hom gelaai stoor). Ek sal nie twee keer dink om my kind te beskerm as hy hier verbygedraf kom en vir haar gaan nie.

piet ·

Eis groot, hierdie twak kan nie oorgesien word nie. Ek hoop daar is ‘n strafregtelike klagte ook.

Wondermaarnet ·

Laat sy eers herstel voor sy haar energie mors op ‘n eis. Alles kom met tyd en ek bid vir vinnige herstel en dat sy wel ‘n eis sal insit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.