Geen foto’s van Westbury-moordverdagtes, gelas hof

Heather Peterson se liggaam in ’n steeg in Westbury kort na die skietvoorval. Foto: Twitter via Yusuf Abramjee

Die Johannesburgse landdroshof het opdrag gegee dat die twee mans wat aangekla word van die moord op Heather Petersen (45) van Westbury se identiteit nie bekendgemaak mag word nie.

Die twee beskuldigdes het Woensdag vlugtig in die hof verskyn. Verslaggewers is nie toegelaat om foto’s van die beskuldigdes te neem nie, alle selfone moes afgeskakel word en lede van die publiek moes die hof verlaat voordat die verrigtinge begin het.

Petersen is verlede maand doodgeskiet toe sy in die kruisvuur van ʼn beweerde bendeskietery in Westbury beland het. ʼn Tienjarige kind was by haar ten tyde van die voorval en die kind is ook in die skietery gewond, maar het oorleef.

Twee verdagtes is op 28 September in hegtenis geneem. ʼn Derde verdagte is Sondag vasgetrek en was Woensdag saam met sy medebeskuldigdes in die beskuldigdebank.

Die landdros het Woensdag gesê aangesien ʼn derde beskuldigde nou by die saak gevoeg is, kan beskuldigde een en twee nie nou om borgtog aansoek doen nie. Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer die borgtogaansoek sal begin indien al die nodige dokumente dan reeds gereed is.

Die verdagtes bly in aanhouding tot dan.

Petersen se moord het tot gewelddadige betogings in Westbury gelei toe die gemeenskap daarop aangedring het dat owerhede dringend ingryp om bendebedrywighede en gepaardgaande geweld in dié gebied hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dawie ·

Geen foto’s van hierdie moordverdagtes maar ander moordverdagtes se foto’s is al van dag een af oral te sien. Hang net af van watter bevolkingsgroep jy is.

Maro ·

Kan die regskenners asb bietjie raad gee…is daar geen standaard in die howe wat fotos aanbetref nie? Besluit elke hof hoe hulle goed dink?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.