Geen genade vir dié verkragters

(Argieffoto)

Twee mans wat in onderskeie sake op verskeie aanklagte van verkragting skuldig bevind is, is swaar strawwe opgelê.

In Mpumalanga het die Nelspruit-hof vir seksuele misdrywe die 38-jarige Moshe Moses Mathebula drie lewenslange vonnisse en nog tien jaar tronkstraf opgelê vir die vier aanklagte van verkragting waarop hy skuldig gepleit het.

Drie van sy slagoffers was minderjarig. Vir elk van dié verkragtings is hy lewenslange tronkstraf opgelê, terwyl die hof hom tot tien jaar tronkstraf gevonnis het vir die verkragting van ʼn volwasse vrou.

Mathebula het in 2013 en 2014 huishoudings waar ʼn vrou aan die hoof was geteiken, by hul huise ingebreek en die slagoffers verkrag.

Mathebula is danksy DNS-monsters aan elk van die voorvalle verbind. Hy is vantevore op ʼn soortgelyke aanklag aangekeer, waarna sy DNS op die databasis geplaas is, sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga.

Adv. Christa du Plessis, die staatsaaklaer, het betoog dat verkragting ʼn “vernederende, beledigende en wrede indringing” vir die slagoffers is en dat dit die plig van die howe is om hul waardigheid te beskerm en gepaste strawwe op te lê.

Du Plessis het die hof ook gevra om nie af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis nie.

Landdros Vanessa Joubert het geen wesenlike of dwingende omstandighede gevind om hiervan af te wyk nie. Mathebula se naam word ook in die nasionale register van seksoortreders en die kinderbeskermingsregister ingesluit.

In die Oos-Kaap het die Mdantsane-streekhof ook ʼn verkragter 20 jaar tronkstraf opgelê vir die aanval op ʼn 18-jarige meisie in Desember 2012 in die omgewing van Keimond.

Anelisa Ngcakani, NVG-woordvoerder in die Oos-Kaap, sê die tienermeisie het op die betrokke aand saam met vriende teruggekeer toe Yandisa Mboteni (34) aan die deur geklop en voorgegee het dat hy haar vriend is.

Nadat die jong vrou die deur oopgemaak het, het Mboteni ʼn mes uitgepluk, haar beveel om weg te kyk en te ontklee. Hy het die mes teen haar keel gehou terwyl hy haar verkrag het, sê Ngcakani.

Die slagoffer se ma en vriendin moes boonop hulpeloos toekyk.

Mboteni het tydens die aanval pas ʼn tien jaar lange vonnis – ook vir verkragting – uitgedien. Hy het boonop nog ʼn slagoffer verkrag terwyl hy op borgtog vrygelaat is vir die meisie se aanval in 2012. Hiervoor is hy in 2019 reeds 15 jaar tronkstraf opgelê.

Khotso Seitlheko, die staatsaanklaer, het aangevoer dat Mboteni as ʼn reeksverkragter beskou moet word en dat hy nie net die waardigheid van die jong slagoffer aangetas het nie, maar ook dié van haar ma wat moes toekyk terwyl haar kind verkrag is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Mathebula is vantevore op ʼn soortgelyke aanklag aangekeer! Hoekom was hy dan vrygelaat? As hy in die tronk gesit het soos hy moes, sou al hierdie verkragtings nie plaasgevind het nie. Nee, die tronke is mos te vol, laat hulle vry om verder misdade te pleeg.

Mariana ·

As misdadigers agter tralies bly waar hulle hoort, sal hulle nie kans hê om weer te verkrag nie. Maar nee in SA loop hulle vry rond om weer dieselfde veragterlike daad te pleeg

Chris ·

‘n Verkragter (wit, pienk, pers, oranje, swart) pleeg ‘n misdaad teenstrydig met die grondwet. Hul ontneem mense hul vryheid om gelukkig te leef. Bring terug die doodstraf en die tronke sal leër raak en belastingbetalers geld spaar

KB ·

Miskien moet vroue weer hul geslags-erkenning (soos mejuffrou, mevrou, dame, ens…wat is ‘n “me.”?) begin opeis én gebruik. Geen onderskeid word ook meer gebruik om die respek van geslag in werksverband aan te dui nie (akteur/aktrise, sanger/sangeres, ens.).
Keer terug na waardevolle beginsels, dan is die stryd al halfpad gewonne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.