Geen gratis hoër onderwys voor basiese onderwys op peil is nie

onderwys-alfabet-swartbord-boek

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun die International Monetary Fund (IMF) se aanbevelings dat die regering eerder basiese onderwys ’n top-prioriteit moet maak as om gratis hoër onderwys te finansier.

Die IMF het in Desember Suid-Afrika se beleid van gratis hoër onderwys bevraagteken. Volgens hierdie beleid bied die regering volledige beurse aan studente met ’n jaarlikse huishoudelike inkomste van minder as R350 000 sodat hulle gratis kan studeer.

“Die werklikheid is dat ongeveer ’n derde van studente aan Suid-Afrika se openbare universiteite hul eerste jaar druip. Slegs die helfte van studente voltooi hul graadstudie binne die aangewese tyd. Die opbrengs op miljarde rande belastinggeld wat aan beurse vir tersiêre opleiding bestee word, is dus uiters power. Die regering sal beter vaar deur eers die swak gehalte van onderrig in skole aan te pak,” sê Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die SOS.

Buys meen leerders se kans op sukses sal drasties verbeter as hulle op skool met die nodige kennis en vaardighede toegerus word.

Volgens die SOS is daar byna jaarliks ’n toename in die getal matrikulante wat kwalifiseer om in die volgende jaar aan ’n universiteit te studeer, weens die verlaging van die slaagvereistes vir universiteitsvrystelling. “Dit beteken nog meer studente, wat nie behoorlik toegerus is om aan ’n universiteit te studeer nie, kry toegang en finansiering om by universiteite in te skryf,” sê Buys.

Buys meen ook daar behoort meer klem op beroepsvoorligting en alternatiewe tot universiteitsopleiding geplaas word. “Universiteitsopleiding behoort nie as enigste of ideale keuse voorgehou te word nie en tegniese opleiding behoort groter aansien te geniet. Studente wat ambagte voltooi, is hoog in aanvraag en kry dikwels vinniger werk as dié met universiteitsgrade,” sê Buys.

Volgens ’n studie wat Solidariteit Helpende Hand in Mei 2018 bekendgestel het, neem dit gemiddeld drie maande vir iemand met ’n kwalifikasie in ’n ambag om werk te kry, terwyl ’n persoon met ’n graad in geesteswetenskappe soms langer as vyf maande na werk soek nadat hulle die graad behaal het.

Buys meen die gehalte van onderwys kan slegs verbeter indien die regering genoeg toegewyde, bekwame onderwysers aanstel. “’n Onderwysstelsel is slegs so goed soos die gehalte van sy onderwysers. Daar hoef nie noodwendig meer geld aan onderwys afgestaan te word nie, maar beskikbare geld moet beslis beter aangewend word.”

  • Helpende Hand se volledige verslag is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cornelia ·

Mag ek ‘n stuiwer in die onderwys beurs gooi? Toegewyde en bekwame onderwysers ontbreek nie in die klaskamers nie. (met enkele uitsonderings) Onmenslike druk op prestasielewering vanaf die onderwyser se kant in weerwil van ‘n dissiplinelose leeromgewing wat bevorder word vanweë ‘n gebrek aan respek in die algemeen. Getalle oorlading per onderwyser. (chaos hantering word ‘n eerste prioriteit.) Bestendige Onderrig sal met die beste bedoelinge op aarde, nie kán realiseer in staats skole waar “politeke ondestrominge” onderwysers se taak ondermyn nie! Daarom sal kwaliteit taan en bekwame onderwysers met reg, ander weivelde soek.

Alida ·

Hulle het klaar gehoor van free education for our people!. Die poppe gaan nog dans en die vlamme gaan hoog opskiet.

Cornelia ·

Ek wil graag byvoeg dat ‘n Onderwysstelsel slégs so goed is as sy Onderwys Departement se Bekwaamheid, integriteit, gewete, insigte, objektiwiteit ten opsigte van die hele leer- leerling en onderrig milieu. Ongelukkig is die terrein beset met die opsigtelik teenoorgestelde. Moedertaal onderrig is ‘n wenresep vir die interpretasie en weergee van leerbegrippe in elke vakgebied. En dit word opsetlik versteur.

Erik Smit ·

Hul soek gratis hoër onderwys, maar hierdie is nie verpligtend. Ek het gestudeer tewyl ek vir my klasgelde gewerk het, en ek het niks oor gekom nie. Wat my pla is die skole wat jou dwing om skool fondse van der duisende Rande `n maand vra, en as jy dit nie kan bybring, wel dan is jou kind uit. Jong ouers het nie 2,3 of 4 duisend rand wat net rondle nie. Ons betaal nog aan huise, medies (as kan beskostig) en probeer oorleef. Skole het `n regte besigheid geword waar jy as ouer gedwing word om maar te betaal. Jy het net geen uitkoms. En vra jy enige skool om te verklaar waar die miljoene `n maand heen gaan, dan word jy eenvouding die deur gewys. Tyd dat hierdie saak aandag kry. Ouers word uitgebuit deur ons skole.

Elna ·

Ek stem 100% met jou saam.. Skole is n besigheid en nie regtig meer daar vir n kind se geleerdheid nie. Skole werk presies op die engelse gesegte:” if your money dry up your friends dry up too” so werk dit in die skole ook en net sekerre ouers kry vrystelling en nie die wat dit regtig brood nodig het nie. Iemand moet n ondersoek instel en vir ons ouers se wat maak hulle met al daai baie geld elke maand want die staat betaal hulle salarisse wat word van die miljoene rande per maand wat hulle maak in skoolfonds??

Gemaskerde Sopbeen ·

Gaan lees die skolewet Erik. E=100(F+A/C) waar F die skoolfonds is, A addisionele uitgawes wat aangegaan is om die kind te laat deelneem aan skoolverwante aktiwiteite, en C die gesamentlike inkomste van die ouers is. Die antwoord op hierdie berekening word teen ‘n kolom in die skolewet gelees en wat jou ‘n persentasie vermindering gee as jy een of meer kinders op skool het, al is dit nie noodwendig dieselfde skool nie. In skole waar die skoolfonds R30 000,00 per jaar beloop, kan ouers met byvoorbeeld 2 kinders op skool, en wat gesamentlik R900 000,00 per jaar verdien, kwalifiseer vir 2,5% vermindering…..Dis net ouers wat nie die skolewet ken nie, wat voel hulle word uitgebuit. As jy die skolewet ken, en aansoek om vermindering van skoolfonds invul, sal jy nogal verbaas wees wat jy kan regkry….en onbeheersde vraatsige beheerliggame in die bek ruk.

Hennie ·

Staan slegs beurse toe vanaf 2de jaar vir studente wat iets ordentlik swot. Raak ontslae van papegaai grade soos BA suiwer. Dit behoort ‘n goeie idee te gee van hoe ernstig studente is.

elizna ·

Hennie. Het jy al probeer om die sogenaamde papgaai graad te behaal?

Gert ·

Wel daar sien ons weer vandag hoekom laerskole so vrot doen. Kinders wat nie ‘n woord Afrikaans verstaan nie, word deur hulle ouers in Afrikaanse skole gesit, so die juffrou mors al haar tyd op daardie kinders, wat in elk geval nie ‘n kans het nie, en die res van die kinders raak agter.
Terselfdertyd staak studente by Unisa vir gratis skootrekenaars, en kry dit, want dis glo ‘n basiese reg.
Geen toekoms hier nie!

Paul ·

Gert, as ek reg verstaan, neem die skool hier en daar ‘n kind of so van die omgewing in wat nie Afrikaans magtig is nie, om hulle dan tog vir tydelik in hul eie taal te help, vir ‘n paar jaar al. Ek het idee die onderwyseres kan wel daardie kleintjies se taal praat. Maar dan het die skool ‘n lat vir sy agterent gepluk om nie ordentlik met die ouers te kommunikeer nie. Ook moes hulle kon voorsien dat die foto ‘n verkeerde indruk sou laat.

eliznae ·

My kind studeer ook deur Unisa. Hoe gaan ek te werk vir n gratis skootrekenaar vir hom ook.

MEYER ·

Hierdie saak is bitterpil om te sluk. Ek kon nooit studeer agv geld. My kinders kon nie studeer agv geld. Nou dat dit beter gaan moet my belasting geld gaan vir ander kinders om te studeer.

Elna ·

@ gemaskerde sopbeen. Baie dankie vir jou inligting jy klink vir my na
n skoolhoof so na my hart. Wens jy was die hoof van die onderwys departement dalk kon ons blanke kinders ook alles verniet kry en verniet verder gaan studeer het en skoot rekenaars verniet kry ensovoorts. Neem asb kennis dat nie alle ouers skoolfondse kan bekostig nie en ek weet van n hele paar ouers wat n hoee inkomste verdien wat vrystelling kry op skoolfonds dalk moet jy navorsing gaan doen daaroor want daar word ook bedrog en korupsie gepleeg agv vrystellings vorms dit gaan ook oor wie jy ken en nie wat jy ken nie. Al ken jy die skoolwette hoe goed dit gaan oor WIE jy ken.

Enkelma ·

Ek stem…ek weet van hoeveel studente wat hul eerste jaar met vol beurs pluk. My dogter is nou al vierde jaar onderwys en ek enkelma wat se inkomste baie ver onder NSFAS se merk is en kan ek die jaar nie weer ‘n studielening bekostig maar vir een of ander rede word sy al vanaf haar tweede jaar afgekeur. Hoop die jaar kry sy darem ‘n beurs by NSFAS om haar studies te voltooi want sys beslis ‘n juffrou deur en deur…iemand wat regtig omgee en verskil maak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.