Geen gronde vir bewerings teen Etzebeth

Eben Etzebeth. (Foto: David Ritchie/ANA)

Ná ʼn herrie bykans ʼn jaar gelede om die kop van die Springbokslot Eben Etzebeth losgebars het nadat hy van rassisme en aanranding beskuldig is, is daar nou in minstens een ondersoek na sy beweerde optrede bevind hy het hom nie aan dié oortredings skuldig gemaak nie.

Die Sondagkoerant Rapport het die afgelope naweek berig SA Rugby se ondersoek teen Etzebeth is afgehandel en dat hy geensins aan rassisme of aanranding skuldig is nie. Luidens die berig is die ondersoek al ʼn ruk gelede afgehandel, maar die uitslag daarvan is nie bekend gemaak nie.

Rapport het berig dat die ondersoek bevind het dat daar geen gronde vir ʼn saak teen Etzebeth is nie en dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ʼn gesprek met Etzebeth – asook met ander spelers – moet hê oor die moontlike uitwerking van ander mense se gedrag op hulle. Oudregter Johann van der Westhuizen het die ondersoek na die bewerings gelei.

Andy Colquhoun, Saru-woordvoerder, het Maandag gesê die kwessie is vertroulik omdat dit ʼn saak tussen werknemer en werkgewer is. “Wat Saru betref, word die saak as afgehandel beskou,” het Colquhoun gesê.

Hy wou nie verder kommentaar lewer oor die uitslag van die ondersoek nie.

André Calitz, Etzebeth se regsverteenwoordiger, het by navraag gesê SA Rugby het hulle nie van die uitslag van die ondersoek ingelig nie en dat hy deur die media daarvan verneem het. “Op grond van dit wat ek gehoor het, is dit goeie nuus vir Eben. Dit bevestig ook ons standpunt dat Eben onskuldig is en dat ons glad nie aan ons saak hoef te verander nie. Ons het niks om weg te steek nie.”

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het gesê hy wag nog op terugvoer oor die jongste stand van die moontlike strafsaak teen Etzebeth.

Calitz het gesê hulle het self ook nog geen terugvoer van die NVG oor die kwessie gekry nie.

Prof. Bongani Majola, voorsitter van die Menseregtekommissie (MRK), het intussen gesê die kommissie se saak teen Etzebeth in die gelykheidshof is eers tydelik agterweë gehou in afwagting van die afhandeling van twee ander sake in die Konstitusionele Hof wat met haatspraak verband hou.

“Dit is nou in die gelykheidshof se hande en ons kan nie voortgaan tot die landdros ons toestemming daarvoor gee nie.”

Majola het gesê die saak is aanvanklik ook vertraag nadat ʼn onsuksesvolle poging aangewend is om die kwessie buite die hof te besleg.

Die MRK, namens vier klaers, het besluit om Etzebeth hof toe te sleep vir sy beweerde gebruik van die h-woord.

Die MRK se hantering van die Etzebeth-kwessie het vroeër kwaai onder skoot gekom, onder meer oor sy waarnemende regshoof, Buang Jones, se uitlatings dat Etzebeth nie met “moord sal wegkom nie” en dat die MRK van hom ʼn “voorbeeld sal maak”. Daar was ook kritiek dat die MRK die saak teen Etzebeth aanhangig gemaak het sonder dat ʼn behoorlike ondersoek eers gedoen is.

Die haatspraaksaak hou verband met die voorval in Augustus verlede jaar in Langebaan aan die Weskus waarin Etzebeth en nog ander mense glo twee mans aangerand en na bewering rassistiese aanmerkings toegesnou het.

Etzebeth het deurlopend die aantygings teen hom ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

MakersMark ·

Daar is geen rede om vir Eben aan te kla nie. Enige ou wat sy Mustang met ‘n baksteen gooi sal getimmer word…..

Suzette ·

Ek hoop werklik dat wanneer al die bewyse op die tafel is en Eben Etzebeth se onskuld bevestig is dat Eben hulle sal dagvaar vir kwaadwillige naamskending en rassisme.

Tokkel ·

Sensasie,Sensasie! Ek hoor gedurig op straat hoe hulle vir mekaar daardie woorde toesnou en dan sê hulle nog by dat jy jou ook nie so moet gedra nie, maar as ‘n witpersoon sou waag om so iets soortsgelyk te sê is almal op jou om geld uit jou te maak…. Mense moet ophou so sensitief wees oor nonsens. Kom ons bou ‘n beter land, wat kan saamstaan en mekaar liewers kan ondersteun.

Benita ·

Ek hoop Sportsmans Warehouse maak ‘n pulieke omverskoning teen die man!

JohanR ·

Was dit nie Totalsports wat Etzebeth se bord verwyder het uit hulle vensters nie, of het ek Sportsman Warehouse se verwydering berig nie gesien nie. Dit sal hulle leer van “innocent until proven guilty!”

Bernard ·

Agge nee Benita, dis maar net ‘n droom van jou daardie. Sportmans Warehouse sal nooit so-iets doen nie.

Adeline ·

Haatspraak vanaf die “Black Matter” kom gedurig voor ek is so deur ‘n vrou in P’nP woordeliks geskel en gevloek as blanke “ek sal gou sien die witmense se tyd in RZA is verby vir ewig”. Die bestuur van P’nP het niks gedoen nie – dit was lang rye mense en almal het dit gesien en beleef. Omdat ek blank is het geen haan daarna gekraai nie. My oortreding was gewees die dame (swart) by die til het my punte van voordeel verwerk en dit het tyd gevat om dit af te trek van my globale verskuldig bedrag van my inkopies. “Black Matter” het alle reg om haatspraak toe te pas en rassisties te wees sonder vervolging – mal-emma is ‘n groot voorbeeld daarvan.

andre ·

Nou wonder ek wat word van die skuldiges en die MRK se regshoof

koos10 ·

So, hy is skuldig bevind die ‘n openbare verhoor en die MRK, en nou is daar geen skuldig bevinding nie.
Eben, ek hoop jy dagvaar die MRK en die “klaers” in die saak uit hulle onderbroeke uit. Ek dink die publikasies wat met die storie gehardloop het word ook bietjie reg gesien, veral as geld hande gewissel het.

tweeling ·

Nee wat Eben kan sy geld beter aanwend as om hofsake aan te roer, dit gee net aandag aan hulle.

Scalla ·

Mrk het rassisties opgetree, skuldig bevind sonder bewyse, wat het van Willemse knaap geword met sy uitlatings op supersport?

tweeling ·

Hy kon nie verder kom met die saak nie toe klim hy maar op die BLM wa

Lorna ·

Nou gaan die knie weer gebuig word
GO ETZEBETH
GO VIR PRESIDENT

Bernard ·

Ek het nie rerig iets anders verwag nie. Ek het van die begin af gesê dis net ‘n blote heksejag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.