“Geen gronde vir Hofmeyr se hofbevel”

Conrad Koch en Chester Missing Foto: Werner Beukes/SAPA

Conrad Koch en Chester Missing Foto: Werner Beukes/SAPA

Daar is geen gronde vir die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr se poging om ʼn permanente hofbevel teen die buikspreker Conrad Koch te bekom nie, het die Randburgse landdroshof Donderdag gehoor.

“Ons voer aan dat daar geen gronde bestaan om die tussentydse bevel teen die respondent permanent te maak nie,” het Steven Budlender, vir Koch, aan die hof gesê. “Ons voer aan Hofmeyr is ʼn openbare figuur. Deur sy openbare en growwe verkondiging van rassisme het hy ʼn growwe reaksie ontlok.”

Daar word ook gevolglik van Hofmeyr verwag om ʼn groter mate van verdraagsaamheid jeens kritiek oor sy standpunte te handhaaf as gewone mense, het Budlender gesê.

Koch het ʼn interim bevel wat Hofmeyr teen hom bekom het, teengestaan.

“Hy wil steeds uitdagende stellings maak en wanneer mense hom kritiseer, sê hy hulle is nie daarop geregtig om hom te kritiseer nie en dat kruip hy agter ʼn beskermingsbevel weg,” het Budlender bygevoeg.

ʼn Permanente bevel teen Koch sal hom en sy buikspreekpop Chester Missing vyf jaar lank verhoed om vryheid van spraak te geniet. “Daar moet buitengewone omstandighede bestaan waar só bevel toegestaan word, en ons praat nie hier van ʼn kêrel wat ʼn eksmeisie teister of mishandel nie.”

Hy het gesê Dan Roodt, wat die aansoek om die interim bevel namens Hofmeyr ingedien het, en Hofmeyr kruip weg agter die “rooi gevaar” (bedreiging van kommunisme)-taktiek en is oortuig dat daar ʼn sameswering deur wit liberale en alle Marxiste teen hulle is.

Hofmeyr het op 23 Oktober op Twitter geskryf: “Sorry to offend but in my books blacks were the architects of apartheid. Go figure.”

Budlender het gesê die twiet impliseer dat swartmense apartheid oor hulself gebring het. “Hofmeyr is welbekend vir sy omstrede uitlatings en het al in die openbaar regse politiek ondersteun.”

Volgens hom het Hofmeyr ook in 2010 rassistiese stellings op Facebook gemaak. “Hy het in Afrikaans geskryf: ‘Swartes, God wees, miskien nie hulle almal nie, maar meeste wat ek sien, voel geregtig in alles… van kwotas/lae matrieksyfers tot grondregte/geweld’,” het Budlender gesê.

Budlender sê Koch het lasterlike uitsprake teen Hofmeyr gemaak, maar voer aan dit is nie onwettig nie. “Die aansoek moet in sy geheel met koste van die hand gewys word,” het hy bygevoeg. “Die aansoek het geen meriete nie. Boonop is dit ʼn misbruik van die proses, vir die verskuilde doel om die respondent se mond te snoer, terwyl Hofmeyr steeds sosialemedia-platforms gebruik om sy rassistiese standpunte te lug.”

Lees alle vorige berigte oor Conrad Koch op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

roelf ·

Ag flop Ben – as jy nie eers dit weet nie, kry ‘n suigstokkie en gaan speel op die treinspoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.