Geen hoop in sig maande ná brand

Die Saartjie Baartman-sentrum in Manenberg. Foto: Eunice Stoltz

Maande nadat ʼn brand die Saartjie Baartman-sentrum (SBS) in Manenberg op die Kaapse Vlakte erg beskadig het, is daar min tot geen hoop dat dié noodsaaklike skuiling vir kwesbare vroue binnekort herstel gaan word.

ʼn Brand het op 11 Mei vanjaar op die eerste verdieping in die vrouevleuel van die sentrum uitgebreek terwyl die vroue in die ontbytsaal bymekaar was. Twee vroue en hul babas het in die kamer waarin die brand ontstaan het, gebly.

Bernadine Bachar, direkteur van SBS, vertel haar grootste vrees was nog altyd die moontlikheid van ʼn brand. Maar, voeg sy by, dank die Here is geen beserings aangemeld nie. Volgens Bachar was dit ook die eerste oggend dat dié twee vroue hul babas na die ontbytsaal saamgeneem het.

“Die vertrek is heeltemal vanaf die vloer tot die dak afgebrand. Weens die toestand van die vertrek kon nie eens die polisie, die brandweer óf ʼn private ondersoeker vasstel wat die brand veroorsaak het nie.”

Die kamer waarin die brand ontstaan het. Foto: Eunice Stoltz

Die Saartjie Baartman-sentrum bestaan al langer as 20 jaar en was reeds die heenkome vir meer as 230 000 vroue en hul kinders. Die sentrum ondersteun slagoffers van gesinsgeweld en bied onder meer dienste in die vorm van rehabilitasie vir dwelmverslaafdes, opleiding en vaardigheidsklasse vir vroue, asook onderrig vir kleuters.

Volgens Bachar is dit die grootste skuiling vir vroue landwyd, maar hulle word tans weens die brand gedwing om teen die helfte van hul kapasiteit in werking te wees. Van die sowat 120 vroue wat hulle kon huisves, is daar tans 57 vroue.

Kwesbare vroue is weens die Covid-19-pandemie nou nog meer as vantevore blootgestel.

“Ons is in die middel van ʼn pandemie waar huishoudelike omstandighede tot meer voorvalle van geslagsgebaseerde geweld lei.”

Bernadine Bachar wys die brandskade op die eerste verdieping uit. Foto: Eunice Stoltz

Die pandemie is ook die verskoning wat aan die sentrum voorgehou word wanneer hulle die plaaslike wetgewer nader om hulp.

Die eiendom waarop SBS sy werk verrig, word deur die departement van vervoer en openbare werke besit.

“Ons het die departement dieselfde dag van die brand genader en gevra om die sentrum te kom besoek, waarna die departement ʼn week later die gebou kom inspekteer het. Ons het die departement daarna telkemale genader.”

Daar is glo aan Bachar gesê dat die Covid-19-pandemie nou die hoofprioriteit is en dat sy dus sal moet wag om gehelp te word.

Maar al sou die pandemie eindig, lyk dit nie of die departement beplan om hulp aan die sentrum te verleen nie.

Jandré Bakker, hoof van kommunikasie by die departement, het in reaksie op Maroela Media se navrae gesê hulle is bewus van die brand wat plaasgevind het, maar dat die huurooreenkoms tussen die departement en SBS hulle nie verplig tot enige herstelwerk nie.

“Ingevolge klousule 12.1.17 van die huurooreenkoms is die Saartjie Baartman-sentrum verantwoordelik vir die herstel van die skade wat deur die brand veroorsaak is.”

Bakker verduidelik dat alle eiendom wat in die naam van die Wes-Kaapse regering geregistreer is onder die bestuur van die departement val. Die eiendomme word egter aan departemente beskikbaar gestel vir gebruik waar die gebruikersdepartement of huurder sekere verantwoordelikhede oorneem.

“Die huur van die perseel is tans op ʼn maandelikse grondslag teen ʼn nominale bedrag. Die huurooreenkoms sluit duidelike stipulasies en verantwoordelikhede in met betrekking tot instandhouding en skade, soos die brandvoorval.”

Hierop sê Bachar sy verstaan dat hulle verantwoordelik is vir enige verbeteringe en herstelwerk, maar dat hulle nie die gebou kan verseker nie omdat hulle nie die gebou besit nie.

Al sou hulle die gebou kon verseker, sou hulle egter na haar mening nie so iets kan bekostig nie.

In die laaste brief wat Bachar van die departement ontvang het, word sy na die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling verwys.

Die twee verdiepings wat weens die brand herstelwerk benodig. Foto: Eunice Stoltz

Volgens Bakker is daar ten tyde van die sluit van die huurooreenkoms tussen die departement en die Saartjie Baartman-stigting die verstandhouding gewees dat die sentrum ʼn verlenging van die maatskaplike ontwikkelingsfunksie is. Juis daarom moet die sentrum dié departement nader.

“Dit is meer as vier maande later en die brandskade raak stelselmatig erger namate die gebou weens reën en stormwinde verder verweer,” vertel Bachar.

Die bykans 40 000 water wat gebruik is om die brand te blus, het groot strukturele skade aangerig en gevolglik moes die grondverdieping onder die kamer wat gebrand het ook ontruim word. Ongeveer 80 vroue is verskuif.

Boonop bring Covid-19 sy eie uitdagings mee en ly hulle die verlies van jaarlikse geldinsamelings wat weens die pandemie afgestel moes word. Verder behels beskermingstoerusting, private doktersafsprake vir vroue, asook private vervoer in ʼn poging om vroue nie aan die koronavirus bloot te stel nie, ʼn bykomende uitgawe vir die sentrum.

Die sentrum se opleidingskamers en ou raadsale is weens ʼn tekort aan ruimte in slaapkwartiere omskep.

“Ons sal nooit ʼn vrou wegwys omdat daar nie plek by die Saartjie Baartman-sentrum is nie en weens die kwessie dat die departement ons nie wil help nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
4ntj13

Kan ʼn gebou met “strukturele skade” net “herstel” word? Is die stigting veronderstel om beskadigde geboue ook te kan vervang sonder dat Openbare Werke ten minste hul samewerking gee? Al verstaan ek dat die huur-ooreenkoms herstel insluit, wonder ek of vervanging dalk meer toepaslik hier ter sprake kan wees. Kan hulle, byvoorbeeld, bloot tydelike behuising ook oprig? Dan, gee Dept Welsyn hoegenaamd om as hul mislukkings in die eerste plek tot sulke instansies se intrede moes lei? Hierdie storie laat talle vrae ontstaan. Vrae wat gewone mense diep behoort te raak.

Delia

Vra hulp by die Lotto. Daar word seker weekliks miljoene in betaal.