Geen hoop op herstel vir Emfuleni-munisipaliteit

Lugfoto van Vanderbijlpark (Foto: Ceejayludick13, eie werk via Wikimedia Commons)

Die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) is van mening dat die Emfuleni-munisipaliteit (Vanderbijlpark) disfunksioneel is en is besorg dat daar geen bewyse van verbetering is nie.

“Dit is baie hartseer om te besef dat die lewens van mense in die omgewing negatief geraak word deur ʼn gebrek aan politieke wil en administratiewe pogings om die mense van die gebied tot diens te wees,” het Faith Muthambi, voorsitter van die komitee, in ʼn verklaring gesê. “Die situasie verg ʼn nuwe benadering om jare se ondoeltreffendheid by die munisipaliteit ongedaan te maak.”

ʼn Gebrek aan gevolgebestuur is die grootste probleem, het sy gesê. “Daar is ʼn groot mate van nienakoming, veral wat betref die aanskaffingseenheid, weens ʼn algehele ineenstorting van kontrole en ʼn gebrek aan doeltreffende oorsig deur die raad. Die komitee glo wette en regulasies is die fondasie waarop ʼn doeltreffende munisipaliteit gebou moet word.”

Sy het gesê dit is onaanvaarbaar dat daar jaar-op-jaar ongemagtigde, onreëlmatige, verkwistende uitgawes was, sonder enige gevolge. “Die 2018/19 jaareinde-balans vir onreëlmatige uitgawes was R1,1 miljard weens nienakoming. Dit is nog meer kommerwekkend dat gevolgebestuur belemmer is deur interne afdelings. Een bestuurder is slegs vir twee dae geskors en die skorsing is daarna teruggetrek,” het Muthambi bygevoeg.

Daar is ook pligsversuim deur die raad, omdat hulle hul oorsigtelike rol versuim het. Die komitee is besorg dat die Munisipale Komitee vir Openbare Rekeninge nie die onreëlmatige uitgawes tydens die 2018/19 finansiële jaar ondersoek het nie en senior bestuurders is nie aanspreeklik gehou nie.

“Die is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit geen planne het om 81 sake, wat deur die ouditeur-generaal uitgelig is, reg te stel nie. Die ontwikkeling van ʼn finansiële herstelplan het ook nie vrug gedra nie en daar is geen teken van verbetering in die munisipaliteit se finansies nie. Die munisipaliteit het boonop ʼn agterstand van R586 miljoen vir die jaar en dit plaas verdere druk op kontantvloei.”

Die onbetroubare krag- en watertoevoer sal ook die munisipaliteit se vermoë negatief beïnvloed om heffings en belasting in te samel en dit sal die munisipaliteit se finansiële toestand verder laat versleg. “Dit is onaanvaarbaar dat rioolstorting en waterlekkasies ʼn norm is in die munisipaliteit. Dit sal enige belegger afskrik om in die munisipaliteit te belê en enige planne, om werkskepping te laat floreer, ondermyn.”

Wat betref kontrakbestuur het die komitee sy kommer uitgespreek dat sommige goedere en dienste, met ʼn waarde van meer as R200 000, aangeskaf is sonder om mededingende aanbiedings te bekom. “Wette en regulasies is daar vir ʼn rede en daar kan nie net daaraan voldoen word wanneer mense so voel nie. Hierdie manier stel die munisipaliteit bloot aan hoë vlakke van risiko wat nie geduld kan word nie,” het Muthambi gesê.

Sy het die bereidwilligheid verwelkom van die sakegemeenskap, om die munisipaliteit by te staan, maar die munisipaliteit se gebrek aan bereidwilligheid om voordeel te trek uit die finansiële kennis en ervaring van die sakesektor is “betreurenswaardig en verstommend”.

“Die nasionale regering het herhaaldelik versoeke gerig vir openbare-privaat vennootskappe om die talle maatskaplike en ekonomiese uitdagings in die land te takel. Tog wys die munisipaliteit enige positiewe voorstelle deur die privaat sektor van die hand. Die komitee maan die munisipaliteit om sy vyandige houding teen ondernemings te heroorweeg sodat die lewenstoestande van sy inwoners kan verbeter.”

Die komitee is ook besorg oor die onvermoë van die munisipaliteit om toerusting vir sy personeel aan te skaf en die lewens van personeellede word in gevaar gestel. “Ons neem met berou kennis dat ʼn werknemer by die munisipaliteit se afvalwaterbehandelingsaanleg verdrink het weens ʼn gebrek aan behoorlike toerusting. Daar word ook beweer dat die werknemer alleen by die aanleg was, terwyl hy te alle tye saam met iemand behoort te werk. Dit is nog meer kommerwekkend dat daar tot dusver geen verslag ingedien is by die raad oor die voorval nie. Dit skets ʼn prentjie van ʼn werkgewer wat nie omgee nie.”

Muthambi het gesê die gebrek aan ʼn verslag beteken dat die administrateurs waarskynlik weer dieselfde foute sal begaan. “Die komitee versoek dringende introspeksie en ʼn analise om te verhoed dat dieselfde fout begaan word.”

Weens die benarde toestand van die munisipaliteit het die komitee besluit om dringend weer op 23 Oktober te vergader om die munisipaliteit die geleentheid te bied om sy reaksie te heroorweeg op die vrae van die komitee. “Die resolusie is gebaseer op ʼn begeerte om werkbare oplossings te vind vir die munisipaliteit se probleme en doeltreffende dienslewering vir die mense van Emfuleni te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris ·

Wonder maar net of daar voorsiening gemaak is in die press in sy oorlewingsplan, die patetiese munisipaliteite en ander onbvoegde staatsdepartemente en so voorts, ook inag geneem is?

Johannes Andreas ·

Nou wonder ek hoe lank voordat die stadsraad in sy verweer betoog die skuld vir sy ondoeltreffendheid en traak-my-nie-agtige houding gaan blameer op apartheid, wit monopolie kapitaal, Jan Van Riebeeck, sneeuwitjie of die Corona vlermuis…….??

Lynette ·

Net WEER ‘n vergadering? Wie het nou weer gesê ‘you cannot do the SAME thing over and over again and expect a different result’!

annie ·

Emfuleni se situasie is die land s’n saamgevat in ‘n neutedop. Die chaos daar geld ook vir die grootste gedeelte van die land maar die groter prentjie wil die regering nie sien nie. Die president gaan net voort om nog staatsamptenare te wil aanstel en nuwe mega-seepborrels te blaas ipv gaar infrastruktuur te herstel en basiese dienste te lewer en te verbeter. Tito vryf die ou oliekan blink in die hoop dat die magièr sal verskyn en die potte goud lewer.

Gert Johannes ·

Vra die ANC wat hulle bereik het met BBEE, die kultuur om alles verniet wil hê, kan net nie werk nie. Alle opleiding gestaak, slaagsyfers en en standaarde verlaag, ver benede wêreld standaarde, onopgeleide, onbevoegde onbekwame mense, diewe en rowers aangestel, wat verwag hulle.

Petrus ·

Vanoggend (Saterdag) die hele dorp weer sonder krag. Gebeur nou gereeld.

Dries ·

Moet ons nou hierdie verdoemende getuienis van n korrupte kader hoor. Sy wat bygedra het vir die ondergang van soveel staats entiteite. Nou moet ons nog haar ‘n salaris betaal om ons te kom vertel wat ons al vir jare weet. Wens regtig sy wil net verdwyn

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.