Geen inentings vir medici in weermag

Deur Elsabe Brits, GroundUp

Pres. Cyril Ramaphosa kry die Covid-19-inenting. (Foto: Siyabulela Duda/ GCIS)

Geen gesondheidswerkers in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het al inentings teen Covid-19 ontvang sedert die regering se entstofplan in Februarie afgeskop het nie.

In ʼn dokument gedateer 17 Maart wat GroundUp gesien het, rig ʼn militêre gesondheidswerker ʼn formele versoek om by die regering se Sisonke-inentingsprogram ingesluit te word. Die persoon wat die versoek rig, is in direkte kontak met Covid-19-pasiënte. Die versoek is afgekeur deur ʼn senior persoon in die weermag en dit word vermeld dat geen militêre mediese beampte buite die departement van verdediging vir ʼn inenting mag gaan nie.

Die Suid-Afrikaanse nasionale verdedigingsvakbond (Sandu) het vroeër die maand met regstappe gedreig sou gesondheidswerkers in die weermag nie teen 8 Maart by die inentingsprogram ingesluit word nie. Die vakbond eis nou dat die geneesheer-generaal van die weermag bedank.

Die Suid-Afrikaanse mediese vereniging (Sama) het ook verskeie navrae ontvang oor Covid-19-entstowwe vir gesondheidswerkers in die Suid-Afrikaanse militêre gesondheidsdiens.

Lt.genl. Zola Dabula, geneesheer-generaal van die weermag, het Sama egter verseker dat alle gesondheidspersoneel verbonde aan die SANW teen middel Maart deur die weermag se gesondheidsdiens ingeënt sou word. Dié inentings sou by goedgekeurde persele plaasvind, wat kwansuis aan die begin van Maart deur die geneesheer-generaal goedgekeur sou word.

Weermaglede word ontplooi om die verspreiding van Covid-19 te help verminder. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Gevolglik het die vakbond sy dreigement oor regstappe teruggetrek. Adv. Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van Sandu, het gesê die vakbond sal ʼn dringende hofaansoek bring indien inentings nie binnekort begin nie.

“Militêre owerhede stel hul eie troepe in gevaar deur te versuim om hul gesondheidswerkers in te ent. Dit kom neer op ʼn kriminele oortreding,” het Greeff gesê.

Sandu se regsverteenwoordigers het reeds op 19 Maart aan die minister van verdediging, asook die hoof van die SANW, geskryf om te sê dat Dabula se ondernemings aan die begin van die maand nog nie gerealiseer het nie en daarop aangedring dat die inenting van militêre gesondheidswerkers so vinnig moontlik begin. “Indien daar geen antwoord op dié skrywe is nie, sal die vakbond die hooggeregshof op ʼn dringende grondslag nader,” het Greeff gesê.

Luidens ʼn dokument wat op 23 Februarie opgestel is, beplan die weermag om die inenting van sy personeel self te behartig. Hoe dit gedoen gaan word en watter entstof gebruik gaan word, is egter nie duidelik nie.

Die weermag het nie ten tye van publikasie op navrae gereageer nie.

Dié berig het oorspronklik op GroundUp verskyn. Lees die oorspronklike berig hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Persheks Adri ·

Ai ek gaan seker nou weer lelik wees, maar regtig julle klomp sit met miljoene rande se pille teen Covid wat onwettig gekoop is en geen prosedure is gevolg nie! Ons weet nou nog nie wie het dit goed gekeur nie… Julle is vinnig om te dreig ne, maar vergeet van julle onwettige pille waarvoor ons betaal het pffft!

Chris ·

Die regering is verantwoordelik dat die hele program so stadig vorder. Hulle is eintlik verantwoordelik nou vir mense wat sterf van Covid. As hulle die privaat sektor toelaat om die entstof aan te koop en te versprei sal dit baie vinniger gaan maar nee. Hulle wil mos alleenreg vir hulle self toe eien.

Elize ·

“Fire” die senior persoon in die weermag wat die inentingsversoek afgekeur het. Dis ook nie die personeel se skuld dat die weermag miljoene se meds aangekoop het en geld gemors het nie. Elke persoon het die reg om ingeent te word

Samuel ·

Waarom is ek nie verbaas oor die SANW se onvermoë of onwilligheid om na hulle personeel om te sien nie?? Pffft.

Pietertjie ·

Ek wonder: moet die mense wat suksesvol ingeënt is nog steeds maskers dra? En sosiale afstand handhaaf?

Snowball ·

Die useless kommunistiese regering wat alles sentraliseer vir die staat is besig om te verhoed dat ENIGE noemenswaardige inentings in SA plaasvind, nie net vir die weermag gesondheidswerkers nie. Wanneer is fase 2?? Oor ‘n jaar sit ons almal nog en wag soos nou – geen plan, geen vordering – modus operandi ANC.
Altyd beloftes en diknek skiet op TV en dan ‘n jaar later is dit “Eish!”

JM ·

Alles wat deur die ANC-regering aangepak word, eindig in ‘n mislukking.

Bushy ·

Interessant, ons K en K ons wil nie inentings he nie. Dan K en K ons oor die swak inentings program. Dit is elke burger se reg om self te besluit. Weermag lede moet ook daai reg gegin word. Indien nie, DAN is dit krimineel Mr Greeff en nie vir julle om te besluit. In die oud weermag het leiers met ons gemaak nes hulle wou, propaganda ens.. ek vervloek hulle en al die wat dink hulle kan doen soos hulle wil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.