‘Geen instapaansoeke’ vir voornemende eerstejaars

Foto: ANA

Terwyl talle matrikulante hul matriekuitslae vier, het die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) en die Universiteit van Johannesburg (UJ) voornemende studente daaraan herinner dat instapaansoeke nie vir 2019 aanvaar sal word nie.

Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, sê die universiteit sien daarna uit om al die eerstejaarstudente te verwelkom wat reeds aansoek gedoen het en aanvaar is om in 2019 by TUT te studeer. “Hoewel die universiteit suksesvolle matrikulante se aspirasies verstaan om verder te studeer, word voornemende studente daarteen gewaarsku om net by kampusse op te daag om plek te soek,” het De Ruyter gesê.

“Die meerderheid plekke vir eerstejaars is reeds gevul en ons sal die publiek deur die loop van Januarie op die hoogte hou indien plekke beskikbaar raak. Die jongste inligting sal deurentyd op TUT se webtuiste, die universiteit se sosialemediaplatforms en in die media gepubliseer word.”

Ook die UJ het gesê hy sal geen instapaansoeke aanvaar nie en dat die aansoek-, toelating- en registrasieproses ten volle aanlyn gedoen word.

“Die universiteit sal die status van alle aansoekers hersien gebaseer op hul matriekuitslae van 2018,” het prof. Kinta Burger, registrateur van UJ, gesê. “Voornemende studente wat egter baie goed gedoen het in matriek, maar nie betyds aansoek gedoen het nie, kan van 7 tot 11 Januarie van die universiteit se laataansoekstelsel deur die webtuiste gebruik maak.”

“Daar is ook ʼn aanlyngeselsfasiliteit op die webtuiste beskikbaar om aansoekers te help met enige navrae oor die registrasieproses.”

Die UJ sal in 2019 sowat 10 000 nuwe voorgraadse eerstejaarstudente inneem. Altesaam 50 000 studente sal na verwagting vanjaar by UJ studeer.

De Ruyter het op haar beurt voornemende studente aangeraai om deur die Central Application Clearing House by [email protected] vir tersiêre studies aansoek te doen. Hierdie stelsel van die departement van hoër onderwys en opleiding (DHET) is verbind met alle tersiêre instansies landwyd en help met die plasing van studente by instansies wat nog plek beskikbaar het.

De Ruyter sê die TUT sal in 2019 sowat 15 000 eerstejaarstudente kan akkommodeer en het reeds meer as 100 000 aansoeke van voornemende eerstejaars ontvang.

“Geen instapaansoeke sal op enige van TUT se kampusse aanvaar word nie. Huidige studente en nuwe eerstejaars wat reeds by die universiteit aanvaar is, moet asseblief van die ‘Ask Me’-assistente gebruik maak wanneer hulle ons kampusse besoek,” sê De Ruyter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.