‘Geen kankerkrisis’: KZN-LUR sê tekort aan medikasie nie hulle skuld nie

(Foto verskaf deur KwaZulu-Natal se departement van gesondheid/ANA)

ʼn Tekort aan chemoterapie-medikasie is nie uniek aan KwaZulu-Natal nie en is nie die skuld van die provinsiale departement van gesondheid nie, het LUR dr. Sibongiseni Dhlomo Maandag gesê.

“Ons is teleurgesteld om hoofopskrifte te lees oor ʼn sogenaamde onkologiekrisis in KwaZulu-Natal vir kankerpasiënte. Die tekort aan chemoterapie-medikasie is nie ons departement se skuld nie en dit is nie uniek aan KwaZulu-Natal nie,” het Dhlomo tydens ʼn perskonferensie in Durban gesê.

Dr. Imraan Keeka, die Demokratiese Alliansie se hoof van gesondheid in KwaZulu-Natal, het verlede week beweer daar is ʼn tekort aan medikasie. Hy het gesê Addington-hospitaal en Inkosi Albert Luthuli-hospitaal word hierdeur geraak.

Dhlomo voer aan die tekorte is landswyd aangemeld en die departement skenk aandag aan die probleem. “Chemoterapie is nie by enige staatshospitaal in KwaZulu-Natal opgeskort nie. Al die hospitale wat chemoterapie aanbied, gaan voort met behandelings. Die enigste uitdaging is Paclitaxel, aangesien die gekontrakteerde verskaffer nie in staat is om die medikasie te verskaf nie. Daar is nie ʼn alternatiewe verskaffer beskikbaar nie.”

Hy het gesê die nasionale departement van gesondheid is op soek na alternatiewe verskaffers om die medikasie in te voer kragtens ʼn artikel 21-permit. “Verskeie medikasie word in chemoterapie gebruik en die samestelling hang af van die pasiënt se toestand. Met verdere ondersoek het ons bepaal dat meer as 29 verskillende chemoterapiebehandelings beskikbaar is.”

Dhlomo en sy departement is in ʼn verdoemende verslag van die Menseregtekommissie geïmpliseer dat hulle “die regte van onkologiepasiënte by Addington en Inkosi Albert Luthuli-hospitale geskend het weens ʼn versuim om die betrokke norme en standaarde toe te pas”.

Die verslag, wat gevolg het ná ʼn klag deur die DA in 2016, het ook bevind dat die maatreëls wat die provinsiale departement onderneem het om in te stel, “onvoldoende en onaanvaarbaar” was.

Dhlomo het egter Maandag tydens die perskonferensie dit weer benadruk dat daar “geen krisis” is wat kankerbehandeling betref nie. “Om die waarheid te sê, ons is geleidelik besig om die situasie om te keer.” Hy het gesê danksy die departement se ingryping, is daar sewe radioterapiemasjiene in die provinsie – meer as enige ander provinsie in die land. Drie van die masjiene is by Inkosi Albert Luthuli-hospitaal, twee by Addington en een by Grey’s-hospitaal in Pietermaritzburg. Die sewende masjien word gebruik as deel van ʼn staat-privaat vennootskap by Queen Nandi en Ngwelezana-hospitaal.

Die wagperiode was vroeër tussen vyf en ses maande, het Dhlomo bygevoeg, en gesê daar is tans geen wagperiode vir kinders wat onkoloë moet sien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anoniem ·

Nie eens naastenby so teleurgesteld soos diegene wat aan kanker ly en nie die nodige behandeling kan kry a.g.v ons regering se absolute wanbestuur van alle noodsaaklike hulpbronne nie. Geen plaasmoorde, geen kankerkrisis, geen misdaad probleem, ja nee… Geen breinselle nie.

Henk ·

Nou wie se skuld is dit dat die anc amptenary floreer op korrupsie, bedrog en diefstal?

Hoe nou....... ·

Dis nooit niemand se skuld nie man! Julle kannie verantwoordiklheid hanteer nie want julle weet nie wat dit behels nie. Julle sit in die poste maar kannie daar funksioneer nie want julle is net agter die geld aan.

Gemaskerde Sopbeen ·

Natuurlik is daar nie ‘n “krisis” vir die ANC kaders nie………..as hulle behandelik nodig het spring hulle op die naaste vliegtuig Singapoer of Kuba toe vir behandeling…….en die belastingbetalers betaal daarvoor…..Net soos wat hulle kindertjies almal in privaat skole is, en nie een van hulle hulle eie brandstof ingooi, of water en elektrisiteit betaal nie………..maar wil voorskryf hoeveel ek van my hard verdiende inkomste moet oorbetaal…….sodat hulle ‘n leefstyl kan handhaaf waarvan ek net kan droom.

Ja smyt.eeiskoud ·

Kan die verdomde ding nie net een keer in sy mislukte lewe verantwoordelikheid vat nie?

Theresa B ·

Niks is ooit julle skuld nie. Julle sit in poste maar is onbevoeg om julle werk te doen. Dit is wat gebeur en niks is ooit julle skuld nie. Altyd iemand anders………………..

Foxi ·

Theresa, ek stem saam…nooit hulle skuld nie! Of is dit apartheid se skuld. Hoeveel siele sterf nie net oor hulle onbevoegtheid in alle staatshospitale nie. Niks werk nie, geen medikasie ooit beskikbaar nie, net panado’s en panado stroop! Kry jy chemo word jy gebrand oor verkeerde behandeling. Begin dink al is dit ook te laat man!

dr. Sakkie van der Merwe ·

Net soos wat CR nou vir Zuma die skuld gee vir die land se agteruitgang. Dit terwyl hy 2de in bevel was van die land. Blaam veskuiwing – Afrikane se manier van: ” Eish is nie ek nie.”

marous ·

Verskonings sal nooit ophou terwyl hierdie mense belasting geld misbruik en verorber nie . Hou op om te betaal en dan krepeer hulle ook .

wraggies ·

Niks is ooit vir die kaders ‘n krisis nie, omdat hulle te onbekwaam is om te weet wat is’n krisis of hoe om dit op te los.

liz ·

Nee ek wag daarvoor, apartheid sal een of andertyd die sondebok gemaak word – al het dit hoegenaamd niks hiermee te maak nie!

Hans ·

‘Wagtyd van 5 tot 6 maande voor behandeling begin is onaanvaarbaar.

Manie ·

Die man se hulle is besig om die situasie om te draai. As daar niks fout is wat se situasie wil hy dan omdraai??

BRENS ·

Staatshospitale is orals in SA een gemors. Ek weet want eks n staatspatiënt. Enige chroniese siekte wat jy mag hê en jys in gevaar by die instansie. Geen medikasie sommige maande; n eenvoudige pil soos ibofrufen n tekort. Waglyste vir vervangings; geen apparate om operasies uit te voer. Kankerpasiënte nog erger. Daar is n algehele verval in die gesondheidsplanne vd land. Jy kan net sowel wag op die dood; want ordentlike healthcare sal jy nie by n staatshospitaal kry nie. n Hartaanval eerder omdat jy woedend raak vir die onbeholpe diens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.