‘Geen kitsoplossing’ vir spanning in Bredasdorp

Meer as 1 200 Zimbabwiërs en Malawiërs is weens xenofobiese geweld uit hul huise op Bredasdorp verdryf. (Foto: Gurswin Prins)

Hoewel gemoedere in Bredasdorp in die Wes-Kaap bedaar het, sal buitelandse inwoners van die Zwelitsha‑ informele gebied nog nie na hul huise kan terugkeer nie.

Die Kaap Agulhas- plaaslike munisipaliteit sê dat hy boonop nou voor ʼn ongekende humanitêre krisis te staan kom.

Maroela Media het vroeër berig dat meer as 1 200 Zimbabwiërs en Malawiërs weens xenofobiese geweld uit hul huise op dié dorp verdryf is. Plaaslike inwoners van Zwelitsha is kwaad omdat dié buitelanders eiendom besit en deur plaaslike ondernemings in diens geneem word.

Geweld het uitgebreek nadat sowat 300 inwoners verlede Donderdag na die munisipaliteit opgeruk het om ʼn memorandum in dié verband te oorhandig.

Samesprekings vir vreedsame oplossings duur sedertdien voort, maar het nog geen vrugte afgewerp nie.

Paul Swart, burgemeester van Kaap Agulhas, het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat hulle gehoop het om die buitelanders teen die vandag [Donderdag] weer in die gemeenskap te herintegreer. Dit sal egter nie kan gebeur nie.

Meer as 1 200 Zimbabwiërs en Malawiërs is weens xenofobiese geweld uit hul huise op Bredasdorp verdryf. (Foto: Gurswin Prins)

Swart meen daar is geen “kitsoplossing” vir die huidige situasie nie al het lede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), Overberg-distriksmunisipaliteit, Suid-Afrikaanse Polisiediens, departemente van binnelandse sake en arbeid sowel as godsdiensleiers in die gemeenskap almal saam met die munisipaliteit aan ’n veelregeringsbenadering gewerk.

“Sondagaand en Maandagoggend het ons gesprekke met die nasionale menseregtekommissaris, Chris Nissen, gehad. Die kommissaris het toe self Maandagmiddag met die leierskap van Zwelitsha en die buitelanders in gesprek getree. Later dieselfde aand het die MRK ook ’n gemeenskapsvergadering met die breër gemeenskap van Bredasdorp gefasiliteer. Inwoners het die geleentheid gekry om hul menings te lug.

“Tydens die gemeenskapsvergadering het ek besef dat ons nie ’n kitsoplossing gaan vind nie en gevolglik ook nie die buitelanders nou al veilig kan herintegreer nie.”

Gurswin Prins, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê dat die munisipaliteit nou deur hul grootste humanitêre krisis nóg in die gesig gestaar word.

“Die situasie in Zwelitsha blyk relatief kalm te wees en die hoë vlak van polisiesigbaarheid help om wet en orde in die gebied te handhaaf.

“Met die huidige situasie waarmee ons te kampe het, word ons as ’n munisipaliteit egter met ʼn ongekende humanitêre krisis gekonfronteer. Met meer as 1 000 ontheemde buitelanders tussen die Bredasdorp-moskee en die Kaap Agulhas-munisipaliteit het ons die verantwoordelikheid om broodnodige hulp te verleen.”

Prins het die groter gemeenskap van Kaap Agulhas bedank wat hul harte die afgelope paar dae vir die buitelandse burgers oopgemaak het.

“Alle skenkings kan by die Overberg-rampbestuursentrum by die Bredasdorp-brandweerstasie afgelaai word aangesien ons nie die kapasiteit het om skenkings veilig by die gemeenskapsaal te stoor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Corne123 ·

Wat gaan aan DA? het die DA hulle greep verloor? riool op strande betogings orals en probleme gaan net aan en aan

Jr ·

Wat het met commander in crêche se uiting van “we are ALL AFRICANS.” gebeur.

Di ·

Daar is HOPELOOS te veel immigrante in die land terwyl ons EIE mense nie werk het nie en van grants moet lewe. Pos hulle almal terug waar hulle vandaan kom

Anton ·

As die Eastern Capers nie tevrede is nie, kan hulle ons altyd “spite” en terug gaan Eastern Cape toe. Die rede hoekom die “foreigners” hulle werk vat is omdat die “foreigners” werk

Nie Verbaas ·

Baie waar. En uitlanders staak nie elke tweede dag vir hoër salarisse waarvoor ons lokale helde nie voor wil werk nie.

VaalDonkie ·

Ja ek voel vir die “locals” maar Zimbabwiers is fantastiese werkers. Ou Bob Mugabe het baie verkeerd gedoen, maar daar was niks fout met Zim se skole nie.

Anel ·

Stuur hulle terug waar hulle vandaan kom. Hoe is dit ons probleem? Hier is genoeg van ons eie mense wat om oorlewing veg. Jammer om te sê maar deesdae het buitelanders meer regte en te sê as ons as burgers. Gaan probeer dieselfde doen in hulle lande! Dit is hoe dit gaan as regerings onbevoegd is.

Misky ·

Ek wonder hoeveel van daai 1200 uitlanders is wettig in die land…. Gaan laai hulle by die grens af en laat hulle terug gaan vanwaar hulle kom.

Shakespeare ·

Die regering is te sleg, korrup en onbevoeg om die toestroming van Afrika na Suid Afrika te keer. Hoera vir die wetlike burgers. Wel gedaan. “So much for your open borders to South Africa Mal – emma.”

Marius ·

Dis hoog tyd dat al die afrika buurlande se burgers terugkeer na hul eie lande toe en daar hul eise daar ter tafel gaan lê.

Phillip ·

Mallema moet ook na sy land terug keer . En daar n party stig

Casper ·

Daar is geen humanitêre krisis in een van hierdie lande nie.Die oplossing om bloedvergieting te voorkom is deporteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.