Geen klasgeldverhoging vir TUT-studente

Betogings by Tshwane Universiteit van Tegnologie se hoofkampus in Pretoria-Wes (13 Oktober 2016) (Foto: ANA)

Betogings by Tshwane Universiteit van Tegnologie se hoofkampus in Pretoria-Wes (13 Oktober 2016) (Foto: ANA)

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het Dinsdag in ʼn verklaring bevestig dat die universiteit geen klasgeldverhogings vir 2017 sal instel nie.

Volgens die verklaring is die besluit tydens ʼn spesiale raadsvergadering geneem. Die universiteit het gesê die besluit is geneem na aanleiding van dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se aankondiging in September dat universiteite self moet besluit oor hul fooiverhogings vir 2017.

Die TUT het sedertdien, soos talle ander universiteite oor die hele land, gebuk gegaan onder gewelddadige studentebetogings. Verlede week het die studenteleier van die #FeesMustFall-beweging by TUT gesterf nadat hy tydens ʼn protesoptog deur ʼn motor getref is.

“Nizmande het gesê die regering sal ondersteuning aan hoëronderrig-instansies gee om seker te maak dat studente wat vir finansiering vanaf die nasionale finansiëlehulp-skema vir studente (NSFAS) in aanmerking kom, asook studente van die sogenaamde ‘missing middle’-huishouding met ʼn inkomste van minder as R600 000 per jaar, nie deur fooiverhogings in 2017 geraak word nie. By die TUT is hierdie groep ongeveer 90% van die universiteit se studentebevolking,” lui die verklaring.

“Om seker te maak geen student ervaar ʼn direkte fooiverhoging nie, sal die 10% studente wat self [vir hul studie] betaal ook deur die universiteit bygestaan word.” Klasgeld sal dus vir die derde agtereenvolgende jaar dieselfde bly en die fooi vir 2015 sal steeds geld.

Die universiteit het gesê die fooiaanpassings vir 2017 vir NSFAS-studente en die “missing middle” sal deur die departement van hoër onderwys gefinansier word, terwyl die TUT die aanpassing vir die oorblywende studente self sal absorbeer.

Volgens die TUT is die memorandum wat onderneem dat daar geen fooiverhogings in 2017 sal wees nie Maandag onderteken. Daar is ook ooreengekom dat alle studente wat finansiële bystand benodig en akademies goed vaar, nie uitgesluit sal word as gevolg van skuld nie.

Intussen het die TUT besluit dat alle klasse normaalweg sal voortgaan en dat die akademiese jaar voltooi sal word sonder onderbrekings. Studente sal ook die geleentheid hê om toetse te herskryf wat deur protesaksies onderbreek is.

“As ʼn universiteit vir die mense verstaan ons die situasie van leerders wat sonder finansiële bystand nooit hulle drome van ʼn universiteitskwalifikasie sal kan bewaarheid nie. Daarom ondersteun ons die veldtog vir gratis tersiêre onderrig.”

Lees alle vorige berigte oor die studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Hou nog steeds aan met hulle “gratis” nonsens. Het die studente ook ingestem dat dinge nou normaal kan voortgaan?

Lance ·

Asof hulle nou gaan happy wees met alles ….dit gaan nie stop nie kyk nou mooi

Ronnie ·

Great, TUT. En volgende jaar gaan almal weer deur dieselfde oefening oor die studiegeld. As ‘n kind ‘n “tantrum” gooi, moet die ouers spring om hom/haar tevrede te hou. As julle dit hierdie jaar doen, wat is die plan van aksie in Oktober 2017?

twakkies ·

Die volgende klipgooi gaan wees vir gratiis verblyf gratis vervoer, geen klas en eksamens en dokters grade aan almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.