Geen kommentaar meer op News24

Argieffoto

Argieffoto

News24 het Dinsdag aangekondig dat hy die kommentaarfunksie op sy aanlynberigte gaan verwyder.

Andrew Trench, redakteur van News24, het in ʼn kommentaarstuk op News24 aangekondig dat 24.com op Vrydag 11 September by “internasionale nuusleiers sal aansluit deur ʼn belangrike verandering te implementeer oor hoe ons kommentare op ons webtuiste hanteer”.
Volgens Trench volg die besluit om die kommentaarfunksie af te skakel na maande se interne debat en gesprekke. “Die eindresultaat van die debatte is dat ons besluit het ons wil graag eerder geken word aan die kwaliteit van ons inhoud as vir ons kommentare.”

Trench het gesê talle kommentators dring daarop aan om die grense van vryheid van spraak wat daar in Suid-Afrika geniet word, te verskuif. “Kommentare dryf mettertyd tot haatspraak in die ergste vorm, en in die beste gevalle is die kommentaar dikwels besaai met vooroordeel. Interessante en goed oorweegde kommentare verdrink in ʼn kakofonie van beledigings deur die minderheid gebruikers.”

Volgens Trench sal die kommentaarfunksie by verstek afgeskakel word, maar sal News24 van hul redaksionele diskresie gebruik maak om die funksie op sekere artikels weer aan te skakel. Trench het gesê lesers sal aangemoedig word om op die MyNews24-platform hul insette te lewer.

Prof. Anton Harber, professor in joernalistiek en mediastudie aan die Universiteit van die Witwatersrand, het in reaksie hierop gesê hy kan verstaan dat News24 van die “misbruik en haatspraak” in sy kommentaarafdeling wil ontslae raak, maar dat dit ook beteken daar word van “goeie, interessante en innemende kommentaar” ook ontslae geraak.

“Gehore verwag toenemend om deel te neem en nie as passiewe ontvangers van die nuus op te tree nie. Deelname wat in een of ander vorm toegelaat word, het ʼn integrale deel geword in die bou van ‘n verhouding met gehore. Buitendien moet ons openbare debat en betrokkenheid by die nuus aanmoedig.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, ondersteun Harber se standpunt: “Vir ons is die kommentaarfunksie op Maroela Media juis dit wat van ons meer as net ʼn mediaplatform maak – dit beteken ons is ʼn aanlyngemeenskap waar mense kan saamgesels, en nie net ʼn eenrigting-kommunikasiekanaal soos koerante van ouds nie,” het sy gesê. “Daar is natuurlik uitdagings rondom die bestuur van kommentaar en lesersdeelname, maar uitdagings is nie iets waarvoor ons skrik nie. Inteendeel – dit skep vir ons die ruimte om ʼn strategie te ontwikkel waarmee ons leserskommentaar bestuur sodat dit ʼn sinvolle tweerigtinggesprek word. Lesers gebruik ook dikwels ons kommentaarfunksie om vir ons opvolgnuuswenke oor ʼn storie te gee, wat lei tot beter beriggewing en die skep van ʼn kultuur waar lesers voel ons luister na wat hulle wil sê.”

Volgens Harber kan dit wel “moeilik en duur” wees om aanlyndeelname te bestuur. “Internasionale publikasies eksperimenteer met maniere om dit te doen – soos voordeel te gee vir diegene wat konsekwent die beste bydraes lewer, of die gebruik van betroubare lesers as moderators – en hierdie maatreëls sal baie meer wenslik wees as om alle kommentaar af te sny. Wanneer een persoon die parlement ontwrig, wil jy daardie persoon verwyder en nie die parlement in geheel sluit nie. Ek vrees hulle doen laasgenoemde en dit is jammer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Arno ·

Ek geniet die deelname aan nuus en berigte, maar is so geskok deur die absolute haat en belaglikhede wat mense op News24 kwytgeraak het, dat ek summier opgehou het om hul webblad te besoek. Gelukkig is die meeste kommentaar op Maroela Media van ‘n beskaafde aard. Dis juis daarom dat ek eerder hier deelneem as elders.

Ben ·

Sjoe! Julle gaan sommer reguit na die Aorta! Nog ‘n verlies vir die voosgeslaande Wit man in Suid Afrika. Julle koop jul ink in 1000-liter dromme – wat kan ons nou daarteen doen? Net teruglê en aanvaar (soos gewoonlik).

Leendert van Oostrum ·

Die tipe kommentators wat jy lok word bepaal deur die tipe berigte wat mens plaas.

As Naspes kla oor die tipe kommentaar wat hulle kry, moet mens soos die Amerikaners sê: “Go figure!”

Kaspaas ·

Goed so want News 24 het maar alte graag die rasse vuur aangeblaas om altyd te verwys na vel kleur as dit wit op swart is maar nooit n verwysing van velkleur as dit swart op wit is nie.

Jaco ·

Ek wens Maroela nuus sluit ook sy kommentaarfunsie want net sekere deelnemers neem deel ook nie om kommentaar te lewer nie maar om te oordeel net wanneer swart mense wit mense tenakom.

Kobus van den Berg ·

Vryheid van spraak sluit waarskynlik media berig kommentaar in maar moet verantwoordelik en bedkaafd gedoen word. Elke mens is ook geregtig op sy persoonlike mening en daar sal altyd menings verskille wees. Respek word verdien……daarom plaas n wag voor jou mond !

SNEL ·

Lees buitendien al lankal nie meer news24 nie, Maroela is tops en dis lekker om jou sê te sê en ook te lees wat ander sê en dink. Deur kommentaar te lewer kan mens ook vir slagoffers sterkte toewens, en ek glo dit dra hulle deur n moeilike tyd om te weet so baie mense dink aan hulle en bid vir hulle. Hoop Maroela hou dit soos dit is by hulle.

Shannon ·

So daar was lank “debatte” gehou voordat hierdie pynlike besluit gemaak was ??
En Andy Trench wil eerder op die “kwaliteit” van sy media konsentreer ??
Ek dink beide stellings is twak.
Dis al geruime tyd baie duidelik dat die inhoud van Media24 en sy lesers se politieke smaal aan teenoorgestelde kante van die spektrum sit. En die gevolg is duidelik – die krant se wins tuimel.
Ek sou sê die werklike rede vir die “aansluit by internasionale nuusleiers” is om hulle eie bas te red. Geen benoemenswaardige getal swartes of kleurlinge lees die krant nie want hulle het jare lank reeds `n tuiste elders in die linkse media. En om te probeer voldoen aan die smaak van `n basies blanke Afrikaanse lesers kring is reeds jare gelede onwettig verklaar.

Dit slaan my dronk dat, na 20 jaar van swak en polities gepolariseerde beriggewing in Afrikaans, daar no steeds nie `n ordentlike, non-godsdienstige en vatbare krant in Afrikaans bestaan nie ??!!

Skip ·

Asof DIT nou gaan help – om MyNews24 te gebruik as platform. Daar word die ERGSTE GRAAD van sosiale en politieke aanvalle geloods – deur anti-wit, anti-man, anti-Afrikaans, anti-godsdienstige, noem dit op! Onnosel besluit. Amper net so onnosel soos Netwerk24 wat dink om ons te dwing om te betaal sou “help om kostes op ‘n nuwe manier te bestuur”. In die 21ste eeu. Bid jou dit aan. Selfs YOUTUBE dink aan nuwe maniere omdat mense die advertensies heeltyd blok. En net so het New York Times moeite gedoen met hulle leespakkette – omdat hulle weet lesers het eenvoudig (soos tans met Netwerk24) van Proxies gebruik gemaak om soveel, so lank soos hulle wil, gratis te lees.

Marie ·

Nie eers by rugby berigte kan sommige ondersteuners ordentlik kommentaar lewer nie. Gaan kyk gerus nou na die kommentaar by die berig oor Sharks wie se kommentaar die vieslikste!

Louw ·

Ek voel sulke kommentaar is noodsaaklik, om elke persoon se opinie te hoor, of jy daarmee saamstem of nie, ons almal is burgers en belasting betalers, gee elkeen sy reg.

Takke Takuuza ·

Nie twee mense dink presies dieselfde nie en opinies is so divers soos die kosmos. Maar die idiote wat veilig voel agter hulle skerms versuur al hierdie forums met banale en ondeurdagte opmerkings. Ek kan heeltemal verstaan hoekom so funksie gestop word. Ons is mos soos ‘n klomp bang hondjies in ‘n hoek wat na mekaar byt. Soms kan mens net skaam kry om van dieselfde herkoms te wees as sommge individue.

Eliza-beth ·

Ja… soms kry ek loopmaag as ek sekere kommentare lees, veral as dit nei oor die berig self gaan of as dit ‘n aanval op iemand anders is wat kommentaar lewer. Maar as dit oor die berig gaan en aan Maroela se standaarde/vereisdes voldoen is dit reg. Soms moet hul dalk meer sensorskap beoefen maar oor die algemeen werk dit goed.

Griki ·

Netwerk24 se artikels is baiekeer feitelik verkeerd en hulle plaas ook baiekeer artikels wat lesers polariseer en die harnas inja. Ek dink hulle is meer gepla oor die kritiek op hulle artikels. Hulle sensor ook kommentaar soos dit hulle pas, nie noodwendig volgens hulle bepalings en voorwaardes nie.

Francois van Zyl ·

Ek het begin agterkom dat die laaste paar maande het news24 sekere artikels se kommentaar begin sluit. Artikels wat juis negatiewe kritiek teen die regering sou kry. Dit was dus ooglopend duidelik dat media 24 deur politieke druk die knie moes buig. Ons weet dat die regering nie van die kritiek hou nie, maar dis nou te laat. Volgende verkiesing gaan hul nog verder steun verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.