‘Geen koronavirus by Dirco’

(Foto: Wikimedia Commons)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) sê dit is hoegenaamd nie waar dat ʼn amptenaar by sy kantoor in Pretoria Covid-19 onder lede het nie.

ʼn Gerug dat die amptenaar weens die nuwe koronavirus siek geword het, het die afgelope ruk soos ʼn veldbrand versprei. Volgens die gerugte is die persoon inderhaas na die Steve Biko- Akademiese Hospitaal geneem. Daar was sedertdien groot kommer omdat Dirco kwansuis nie daarna enige voorsorgmaatreëls ingestel om die verdere verspreiding van die virus te voorkom nie.

Clayson Monyela, Dirco-woordvoerder, het gesê dit is allermins die geval.

In ʼn interne brief aan amptenare sê die departement die betrokke werker is deur een van sy gesondheidswerkers ondersoek, maar dat die vrou geen simptome van Covid-19 getoon het nie.

Die vrou het wel gesê dat haar man onlangs van ʼn reis na ʼn land in die Midde-Ooste teruggekeer het. Hy het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gekontak om ʼn toets vir die nuwe koronavirus te ondergaan, maar is nié getoets nie omdat hy geen simptome van die siekte getoon het nie.

Hy is tans in self-isolasie.

As ʼn voorkomingsmaatreël het die vrou gevra om na ʼn toe kantoor geskuif te word omdat haar man se status nog nie bevestig kon word nie. Sy het ook alle nodige besonderhede verskaf, lui die brief aan amptenare.

“Ons wil alle kollegas se vrese weerlê en bevestig dat daar in dié stadium niemand waarvan ons weet by Dirco is wat positief vir Covid-19 getoets het nie.

“Ons wil ook ʼn beroep op almal doen om nie vals en onbevestigde inligting te versprei nie omdat dit onnodige paniek saai.”

Die departement het intussen besluit dat sy werkers wat onlangs ná besoeke aan die buiteland teruggekeer het, vir 14 dae in self-isolasie moet gaan en moet aanmeld om vir die virus getoets te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.