‘Geen krisis’ by NVG

Adv. Hermione Cronje het verlede week as hoof van die Ondersoekdirektoraat bedank. (Foto: Ondersoekdirektoraat/NVG)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hou vol daar is geen krisis in sy geledere nie ná die onverwagse bedanking van adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekdirektoraat (OD) van die vervolgingsgesag.

Die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, het verlede week bevestig dat Cronje bedank het.

“Die NVG ondervind nie ʼn krisis nie en daar is geen wydverspreide sabotasie van die OD of enige ander afdeling van die NVG wat plaasvind nie,” het Batohi Maandag by ʼn mediakonferensie benadruk.

Cronje was nie by die vergadering nie en Batohi het ook nie uitgebrei oor die redes vir haar besluit om die amp vroeër neer te lê nie. Die bedanking tree op 1 Maart in werking en Cronje bly tot dan in die pos. Pres. Cyril Ramaphosa het die bedanking ook nog nie aanvaar nie.

Batohi en die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, moet intussen Woensdag voor die parlement verskyn om redes vir Cronje se bedanking te gee.

“Adv. Cronje se bedanking en die uitvoerende komitee se besluit om die aanbeveling aan die president te doen om dit te aanvaar is die sameloop van faktore waarvan ek nie die al die besonderhede kan bespreek nie,” het Batohi Maandag gesê.

“Die verkeerde narratief, dat sy weggaan omdat ons nie oor die weg gekom het nie, sorg vir dramatiese verslaggewing, maar dit is waar dit eindig. Landsbelang is vir adv. Cronje en myself belangrik. Ons besluite word in die belang van die land geneem en vir my in die belang van die NVG in die geheel.

“In ʼn hoëdrukomgewing waar baie op die spel is, is spanning af en toe normaal.

“Die OD was en is onder druk om te presteer en dit is my werk om te verseker dat dit gebeur.”

Volgens Batohi is ʼn leierskapsverandering normaal en dikwels gesond.

“Adv. Cronje is in Mei 2019 aangestel, twee jaar en agt maande gelede. Dit is ʼn taai werk in ʼn taai omgewing, so dit moenie ʼn verrassing of ʼn bekommernis wees dat sy ná hierdie tyd besluit het om aan te beweeg en dat ek en die uitvoerende raad die besluit steun nie.”

Batohi hou intussen vol daar is geen leierskapsgaping nie en dat ʼn omvattende oorgangsplan sal verseker dat die OD steeds sy werk kan doen.

“Die NVG was en is steeds vol toegewyde en hardwerkende personeel, maar die organisasie is heftig aangeval en talle [werkers] is getraumatiseer deur jare van staatskaping en die uitwerking wat dit op die NVG en die strafregstelsel gehad het,” sê Batohi.

Sy sê daar is verskeie sake wat gereed is om die hofrol geplaas te word en alle pogings word aangewend om te verseker dit word so gou as moontlik gedoen. “In die proses om ʼn nuwe ondersoekdirekteur aan te stel sal ons nougeset wees om te verseker dat dit die regte mens met die regte vaardighede is wat die werk gaan doen.”

Adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, adjunk-direkteur van nasionale vervolging, sal Cronje tydens die oorgangstydperk steun terwyl ʼn nuwe hoof gewerf word.

“Daar is baie op die spel en kan ons nie bekostig om te misluk nie. Ons is gereed, met toegewyde personeel in die OD en die breër NVG om te konsentreer op hierdie doelwit, en wat voortgaan met die werk. Mislukking is nie ʼn opsie nie,” sê Batohi.

Proses ‘nie vinnig of maklik’

Volgens Batohi word daar stelselmatig gewerk om die NVG weer op te hou, met die wete dat dit nooit ʼn vinnige of maklike proses sal wees nie. “Dit is egter belangrik vir Suid-Afrikaners om dié werklikheid te verstaan en nie hoop te verloor in die oppergesag van die reg nie. Met dít in gedagte moet ek erken as wetstoepassers en die NVG moet ons meer doen.

“Mense in Suid-Afrika voel nie veilig nie en voel nie dat geregtigheid vinnig of breed genoeg geskied nie.”

Wayne Duvenage, hoof van die drukgroep Outa, het verlede week aan EWN gesê Cronje se bedanking was geen verrassing nie en dat hulle bekommerd was oor die stadige pas waarteen staatskapers aan die pen ry. Volgens Duvenage het Cronje boonop weinig om te wys vir haar termyn by die OD.

News24 het verlede week ook berig daar is toenemende frustrasie by Eskom oor die stadige pas waarteen teen oortreders en groot maatskappye wat by ongerymdhede betrek word, opgetree word. Die OD is verantwoordelik vir die meeste van Eskom se groot korrupsiesake. Die kragvoorsiener oorweeg dit luidens die berig om private vervolging teen individue in te stel as die NVG nie binnekort sigbare vordering toon met die sake wat daarheen verwys is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

Ek sou ook bedank het! Het LANKAL nie meer vertoue in hierdie klomp nie. Word ook deur die korrupte ANC kaders beheer

Jr ·

As die cANCer party sê daar is nie ‘n krisis MOET u verseker WEET DAAR IS’ n KRISIS.

annie ·

‘n Vreemd virus loop al vir dekades by die NVG vry rond. Terwyl alles, selfs rioolpype, deesdae vir virusse en hul trawante getoets word, kan die wattepluisies sekerlik dalk hier ook ‘n rondte doen of is dit teen die wet?

Nico ·

Verskonings en liegstories is aan die orde van die dag, onbevoegdheid en die rassekaart.

Kobus ·

Ek moet sê ,ek was baie opgewonde toe me Batohi en Cronje aangestel is. Gehoop Batohi sou met dieselfde geesdrif korruptes verguis soos sy destyds met wyle Hansie Cronje gedoen het en me Cronje se karakter wat daarop sou dui dat sy nie sal skroom om verdagtes te vervolg nie. Wonder nou of hier politieke druk is en of die twee dames se persoonlikhede bots? Soos ek verstaan kon me Cronje met vervolging nav wat by die Zondo kommissie getuig is begin maar ek hou nie meer asem op nie. Ander vraag is of Shaun Abrahams / Zuma nog elemente daar het wat die hele proses saboteur?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.