Geen kwade gevoelens ná beskuldigings, sê hospitaal

Dr. Naing Soe, uitvoerende hoof van die Tshwane-distrikshospitaal (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Die uitvoerende hoof van Tshwane-distrikshospitaal sê daar is geen kwade gevoelens nie, ná daar bevestig is dat ʼn hawelose man nie toegang tot die hospitaal in Pretoria geweier is nie. Die man is buite die hospitaal oorlede.

Maroela Media het vroeër berig die LUR vir gesondheid in Gauteng, dr. Bandile Masuku, het Sondag gesê die ondersoek na die voorval wys nou beslis dat die man nié in enige stadium weggewys is nie. Daar was bewerings dat gesondheidsorgwerkers die man verlede week toegang tot die hospitaal geweier het, omdat hy glo te vuil was.

Dr. Naing Soe, uitvoerende hoof van die hospitaal, het gesê hy onderneem om steeds die nodige sorg en behandeling te bied aan die gemeenskap van Pretoria.

Tydens Masuku se ondersoek het die geslote kringtelevisiemateriaal buite die Tshwane-distrikshospitaal gewys dat die hawelose man wat na bewering weggewys is, in der waarheid nooit die hospitaal binnegegaan het nie, maar net buite die hospitaal gesterf het.

“Ek dink baie mense was paniekerig ná die voorval,” het Soe bygevoeg. “Daar was baie beskuldigings van die Demokratiese Alliansie, raadslede en koerante wat gesê het dat ons personeel die persoon weggewys het. Ons het die beeldmateriaal nagegaan saam met ons kommunikasiebeampte [Zandile Mthimunye] en die privaat veiligheidsmaatskappy en dit was duidelik dat die beskuldigings vals is.”

Hy het gesê sommige van die verslaggewers, wat beweer het die man is weggewys by die hospitaal, is gekontak en versoek om regstellings te publiseer.

“Die Tshwane-distrikshospitaal is een van die beste hospitale in die provinsie, en in die land. Ons sal nooit gesondheidsorg van enigiemand weerhou nie. Ons sorg vir almal – of dit ʼn uitlander of Suid-Afrikaanse burger is. Ons kyk nie na kleur of ras nie. Ons behandel die grootste getal pasiënte in Gauteng van alle distrikshospitale. Ons bied hoëgehaltesorg aan die gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dorie Niemand ·

Wanneer gaan mense leer om hul feite agtermekaar te kry, voordat beskuldigings left right en centre rond geslinger word.

Louwrens de Beer ·

Dit is nie vir my duidelik of die persoon binne sig gesterf het nie of buite sig. Indien binne sig bekommer dit my dat geen hulp spontaan aangebied was nie

Bloudrom ·

Speurder de Beer, hy kon binne sig gewees het maar niemand het hom dalk gesien nie. Hoe nou gemaak? Jy sal verder moet bespiegel

pieta ·

@Namibia….So wat daarvan as hy het? Takseer jy ook mense op hulle uiterlike voorkoms?

A ·

Sarel – ek stem saam. HULLE het die kring televisie nagegaan. Maak dit dan beskikbaar sodat almal kan sien julle jok nie.

ano ·

Help almal? Maar ‘n bejaarde dame moes self uit die ambulans kruip? Binne of buite die hospitaal – hulle gee nie om vir niemand nie!

Andrea van Vuren ·

Eienaardig hoe daar toegesmeer en geskerm word. ‘n Bejaarde word onder ‘n stoel vasgebind en ‘n kennis (94) wag drie dae op ‘n trollie in ongevalle vir hulp. Mnr Soe, openbaar asb. jou kwalifikasies. Is jy so hoog gekwalifiseerd dat jy nou ‘n meneer geword het? Totsiens Tshwane distrik hospitaal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.