Geen lang uitstel vir jong beskuldigdes in nagklub-moordsaak

Gideon Fourie, een van die drie beskuldigdes in die saak. (Foto: Maroela Media)

Streeklanddros Ian Cox het Woensdag korte mette gemaak van ʼn aansoek dat die saak teen die drie moordbeskuldigdes in die Daniël (Danie) Botha-verhoor lank uitgestel word.

Gideon Fourie, Jacques de Lange en Sampie Hearn staan tereg vir die moord op die 26-jarige Botha, ʼn meestertegnikus by Land Rover en Jaguar. Botha is in Julie 2018 so erg in ʼn kuierplek aangerand dat hy breindood verklaar is. Die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, is enkele dae later afgeskakel.

Al drie jong mans pleit onskuldig op die aanklagte teen hulle.

Fourie se regspan het Woensdag in die Benoni-streekhof om uitstel gevra nadat ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien is vir ʼn hersiening van ʼn aansoek om ontslag wat vroeër in die streekhof van die hand gewys is.

Jacques de Lange. (Foto: Maroela Media)

Riaan Louw, Fourie se regsverteenwoordiger, het die hof gevra dat die saak uitgestel word tot die hooggeregshof ʼn beslissing maak. Die staat het beswaar hierteen gemaak en aangevoer dit kan die saak met maande vertraag. Dít terwyl die beskuldigdes in die verlede verskeie kere kapsie gemaak het teen vertragings in die saak.

Sampie Hearn. (Foto: Maroela Media)

Volgens Louw was dié vorige vertragings egter hoofsaaklik aan die staat te wyte en het sy kliënt nog nie tevore vir uitstel gevra óf die saak vertraag nie. Louw het aangevoer dit sal net billik wees om die saak uit te stel.

Cox het egter bevind ʼn aansoek wat in ʼn hoër hof gebring word beteken nie noodwendig dat die verrigtinge in ʼn laer hof nie kan voortgaan nie. Volgens die landdros is hy nie oortuig dat ʼn lang uitstel geregverdig is nie en dat dit boonop nadelig vir die ander twee beskuldigdes kan wees.

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

Hy het bevind dat die hersieningsaansoek gelyklopend met die huidige hofproses kan plaasvind.

“Die saak gaan voort,” het Cox bevind en verrigtinge tot Donderdag uitgestel. Nog getuienis, na verwagting van een van die beskuldigdes, sal dan aangehoor word.

Fourie, De Lange en Hearn is steeds uit op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

VaalDonkie ·

Hulle is bang om tronk toe te gaan want daar is nie brannewyn in die tronk nie.

Lubbe ·

As jy iemand te lyf gegaan het by ‘n kuier plek moet jy die nagevolge van wat gebeur dra. Hierdie uitstel tegniek gaan nog veroorsaak dat hul die saak wen.

Nie Verbaas ·

Wonder of hulle nog veglustig is. Laat hulle sit. 3 teen 1? Laat hulle sit.

Marcello ·

Sluit hulle toe, en gooi die sleutel weg !!!!!!!!!!!!!!!

Belinda ·

Sluit hulle toe. Ons het nie mense soos hulle in ons samelewing nodig nie. Aan Maroela Media, is daar vroeer berigte wat ek kan na slaan? Wil graag die hele storie volg. En kan julle ons op hoogte hou van die saak.

koos10 ·

Ek wil my nie uitlaat oor die saak nie, maar wel die proses.
Daar is een ou in ons land wat al vir jare met sy hofsake sloer. Hoekom kan dieselfde uitsprake/reëls nie vir beide partye geld nie?
Almal is blykbaar gelyk voor die hof, yes right, soos Animal Farm?

Harley Davidson ·

Daar is nie meer plek in vandag se samelewing met die tipe van misdadigers nie maak n voorbeeld van hulle en gee hulle die maksimum straf.

Di ·

My vraag aan die 3 beskuldiges is “HOE SLAAP JULLE IN DIE NAG”? Daar is GEEN verskoning wat dit regverdig dat ‘n jong man so erg aangerand is dat hy sterf daarvan.

Daleen ·

Hulle almal het aangegaan met hulle lewens Diline, getrou, babas gemaak en nog steeds gekuier…. Geen gewetes nie hulle is baie seker hulle gaan baie lig indien nie skotvry hiervan afkom…. Ek wag nog steeds dat die saak “verdwyn” – geld wat stom is……

Peach ·

Daleen, laat my sommer terug dink aan die berugte Waterkloof 4 saak.

KB ·

Sodra dit weer ‘n groep blankes is, word ‘n saak deurgeforseer. Maar maak dit nou ‘n ANC-saak, dan is dit uitstel op uitstel, mediese parool, vol betaling…bla-bla-bla.
Onse regsstelsel is só bevooroordeeld.

ES ·

Nee wat, sluit maar die manne toe. Ons het nie sulke tipe mense in ons samelewing nodig nie.

Anoniem ·

Tragies dat jong mense soveel hartseer kan veroorsaak en terselfdertyd hulle lewens in ń oogwink kan wegsmyt ten koste van ń sopie …

Boerkind ·

Altyd ‘n gevolg vir jou aksies! Moenie dit probeer ontduik nie – julle het geweet wat julle gedoen het! Iemand is vermoor!

Hardekwas ·

Kom ons kyk of hulle lus is om in die tronk te baklei. Dié 3 kapokhaantjies moet laaaank sit.

Sarel ·

Indien skuldig bevind word gasn hy asnsoek doen vur
” Medueee Parool”? ??

Charl ·

Lafhartige slapgatte, kan nooit op ‘n een tot een basis baklei nie, moet maaitjies he om te help, soos ‘n trop hienas. Hoop julle sit sommer lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.