‘Geen lewensdreigemente teen Thabo Bester nie’

Die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester tydens sy hofverskyning (14 April 2023) (Foto: AFP)

Die departement van korrektiewe dienste sê bewerings dat die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester na Mangaung- korrektiewe sentrum oorgeplaas is, is vals.

“Ons kan bevestig dat Bester na die Kgosi Mampuru II- korrektiewe fasiliteit vervoer is,” het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, Saterdag gesê.

“Ons kan ook bevestig dat daar geen klagtes ingedien is oor dreigemente op sy lewe nie en dat hy beslis eet.”

Bester se regsverteenwoordiger het Vrydag aangevoer dat hy vir sy lewe vrees. Sy regsverteenwoordiger het ook aangevoer dat Bester die afgelope 24 uur nog niks geëet het nie en dat hy net kos van sy regspan sal aanvaar omdat hy vir sy veiligheid vrees.

Die 37-jarige Bester het Donderdag uit Tanzanië, waar hy aangekeer is, na Suid-Afrika teruggekeer en het Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. ʼn Swaar polisieteenwoordigheid is deurlopend gehandhaaf.

Bester, wat die Facebook-verkragter gedoop is, is in 2012 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy slagoffers op dié sosialemediaplatform gelok en hul dan verkrag en beroof het. Hy het minstens een van sy slagoffers vermoor.

Hy het sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die tronk verdwyn. ʼn Verbrande liggaam is in Mei 2022 in Bester se tronksel aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het. DNS-monsters het egter later gewys die oorskot in die sel is nie dié van Bester nie.

Bester is vroeër deur die Tanzaniese polisie aangekeer, nadat hy en sy minnares, dr. Nandipha Magudumana, landuit gevlug het. Nog ʼn persoon, ʼn Mosambiekse burger, is saam met hulle aangekeer.

Magudumana het Donderdag reeds in die hof verskyn waar sy tereg staan op verskeie aanklagte, waaronder moord. Sy en nog vier beskuldigdes, onder wie haar pa, moet weer op 17 April in die hof verskyn in verband met hul beweerde rol in die ontsnappingsage.

Bester moet op 16 Mei weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.