Geen ‘liberale wegbreekparty’ vir DA beplan

da-verkiesing

Argieffoto: Reint Dykema

Verskeie DA-LP’s het Maandag ontken dat daar enigsins planne beraam word vir ’n suiwer liberale splinterparty wat van die DA kan wegbreek.

“Dis ’n klomp twak,” het die liberale DA-LP dr. Michael Cardo gesê oor Sondag se hoofberig in die Sondagkoerant City Press, wat beweer het ’n skeuring in die DA is op hande omdat leidende liberale DA-LP’s ’n suiwer liberale party wil stig.

Uit Maroela Media se wye en omvangryke navrae onder liberale DA-LP’s die afgelope twee dae blyk dit dat Cardo die waarheid praat. Dit wil uit navrae voorkom asof die storie sy ontstaan gehad het by idees en stellings deur die hoofamptenaar van die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge (’n liberale navorsingsorganisasie), Frans Cronje. Cronje is ook die enigste bron wat City Press by name aanhaal.

Cronje het hom egter vandag van die inhoud van die berig gedistansieer. Volgens wat Cronje vandag gesê het, is daar nie DA-LP’s by die konsultasies oor ’n moontlike liberale party betrokke nie – net bekende DA-ondersteuners. En volgens Cronje se stellings vandag was die uiteinde van die gesprekke nog altyd dat dit nie wenslik is om ’n liberale party buite die DA te stig nie.

Uit raadpleging met DA-LP’s blyk dit dat die stand van liberale waardes in die DA en die wenslikheid van ’n liberale party die afgelope omtrent sewe jaar gereeld in informele gesprekke voorkom. Miskien op dieselfde wyse waarop die moontlikheid van ’n terugkeer na die volkstaatbeleid, of ’n meer liberale beleid oor moreel-maatskaplike vraagstukke soms in die VF Plus voorkom. Gesprekke en debat oor beginsels is immers die stapelvoedsel van enige denkende politieke party wat nie wil versand nie.

Daar was geen enkele DA-LP met wie Maroela Media gepraat het wat dit in hierdie stadium selfs oorweeg om ’n liberale party buite die DA te stig nie. Die meeste het gevoel dit baat nie eens om hulle in die openbaar daaroor uit te spreek nie – dit gee na hulle mening net suurstof aan onwaar bewerings.

Al wie op die rekord wou praat was Cardo, wat slegs gesê het dat die bewerings ’n klomp twak is, en die DA-hoofsweep, John Steenhuisen.

“As mense binne die DA ’n probleem het met die rigting waarin die party beweeg, kan dit binne die party bespreek word. Maar as iets fout is met jou huis, probeer jy dit eers regmaak. Jy bou nie met elke probleem ’n nuwe huis nie,” het Steenhuisen gesê.

Wat ook al die ware toedrag van sake is, dit is duidelik dat die hele episode drie gevolge vir die DA sal hê. Eerstens is dit waar dat sommige veral wit, Engelssprekende DA-LP’s uit KwaZulu-Natal wat wyd as liberaal geëien word, gaan sukkel om volgende jaar tot die parlement herkies te word. Dít sal wees omdat hulle aan die minderheidskant staan van die onverkwiklike tweespalt en gekibbel in die KwaZulu-Natalse DA, wat dikwels uit swak persoonlike verhoudings eerder as omvattende beleids- of rasverskille spruit.

Daardie LP’s sal dalk ’n ander voertuig moet vind as hulle tot die parlement herkies wil word, en enige party wat hulle om den brode stig sal per definisie ’n liberale party los van die DA wees.

Tweedens het dit die kwessie van getrouheid aan liberale waardes (wat dit ook al mag beteken) weer ’n leidende gesprekspunt in die DA gemaak, wat liberale lede se hande kan sterk omdat dit telkens ’n vraag sal wees wat met die oog op die voorkoming van ’n moontlike toekomstige skeuring prominent opgeweeg sal moet word in beleidsgesprekke.

Derdens is dit die jongste voorbeeld dat daar ’n persepsie is dat die DA onbeholpe en nie so verenig is as wat die afgelope meer as tien jaar die geval was nie, en dat die party gaandeweg in baie kringe die beeld verwerf dat interne stryery en nydigheid baie van die tyd opneem wat bestee sou kon word aan belangrike kwessies.

Dit sluit kwessies in soos die dien van kiesersbehoeftes, die skep van werkbare beleidsalternatiewe, fokus op gehalte waar die DA regeer, teenstand teen spesifiek die ANC en die bou van alliansies met ander politieke partye om die ANC in aanstaande jaar se verkiesing tot onder die 50%-ondersteuningskerf te druk, met dien verstande dat dit ook in DA-kiesers se opperste belang is om die EFF nie by verstek in die ANC se wagtende arms te dwing deur die EFF se hand van samewerking wat steeds grootliks by voorkeur na die DA uitgestrek bly, weg te slaan of te ignoreer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Dit blyk tog dat die DA heelwat minder liberaal- en meer konserwatief-gesproke (miskien meer Afrikaanssprekende) kiesers verloor ten gunste van die VF+. Het hulle nog niks gesien sê daaroor nie maar miskien beskou hulle dit as ‘n druppel in ‘n emmer.

Adam ·

Cherokee, soos jy bewus is, dink ek Maimane sal die DA knou net soos Kortbroek die NNP stuiptrekkings laat kry het. Ek besef jy is ‘n groot VF+ ondersteuner, maar ongelukkig is en sal hul getalle te klein bly om vir die regering enigiets meer as “nuisance value” as teenstand te bied.

Nouja ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n …
Solank hierdie party Capexit ondersteun, is als honkie dorie.

kobus ·

VF+ hier kom ons.ek hoop net almal gaan terug waar hulle behoort.maar jy sal altyd n hensoppers kry

Judge Dredd ·

Tyd vir ‘n party wat op minderheidsregte/groepe (wit/kleurling/asies/KhoiSan) konsentreer.

Laat die ANC,DA,EFF maar vir die swart vote baklei – die dag as koalisies gevorm word dan sal hulle met hierdie minderheids party moet onderhandel. So party kan moontlik ook die Wes-Kaap alleenlik regeer.

Al ·

Ek glo hierdie kan net kwaadwillige praatjies wees. Om nou ñ nuwe politieke party te skep, is uiters swak tydsberekening. Die verkiesing is feitlik op hande.

Oom Kalahari ·

VF+ mag dalk ‘n klein party wees, maar dan moet in ag geneem word dat vele konsentreer op die persepsie van hul kan nie ‘n verskil maak nie…..”Verkeerde stelling”
As daar meer ondersteuning vir hul toegeken word deur stemgeregtes des te meer verteenwoordiging sal daar wees en kan ‘n verskil op koalisie vorming ook wees met hul waardes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.