‘Geen maklike oplossings vir beurtkrag’ – Ramaphosa

Van Eskom se herstruktureringsplanne om kragvoorsiening te bevorder sal glo teen Desember afgehandel wees. (Argieffoto: Mujahid Safodien/AFP)

Hoewel dit lyk of Suid-Afrikaners beurtkrag nog lank sal moet verduur, sal sommige planne om die beskikbaarheid van kragvoorsiening te bevorder glo teen Desember al afgehandel wees.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag tydens ’n vraag-en-antwoordsessie in die nasionale vergadering gesê die wettige skeiding van Eskom se transmissie-afdeling word vir 31 Desember 2021 beplan, terwyl die wettige skeiding van opwekking en verspreiding vir Desember 2022 geskeduleer is.

Dit vorm deel van ʼn herstelplan om die beskikbaarheid van kragvoorsiening te bevorder en behels dat die energiereus in drie filiale vir transmissie, opwekking en verspreiding herstruktureer.

Dit sal onder meer mededinging bevorder en nuwe beleggings in opwekkingskapasiteit aanspoor.

“Die Wet op Elektrisiteitsregulering en die prysbeleid vir krag word ook gewysig om die nuwe elektrisiteitsbedryf te weerspieël.”

Ramaphosa sê sommige munisipaliteite werk reeds daaraan om self krag vir hul inwoners op te wek.

“Dit sal ook die risiko verminder om op een entiteit vir kragvoorsiening staat te maak.

“Hierdie hervorming sal ’n beduidende positiewe impak op ekonomiese groei hê, en sal die betroubaarheid en doeltreffendheid van ons elektrisiteitsvoorsiening verbeter.”

Om die risiko van beurtkrag te verlaag is verskeie bykomende maatreëls ook die afgelope jaar ingestel, soos die wysiging van die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006, wat die drempel vir selfopwekking van 1 MW tot 100 MW verhoog.

Verskeie planne is ook vanjaar aangekondig wat ʼn hernude fokus op groenkrag plaas.

Daar is onder meer 25 groenkragprojekte goedgekeur om nagenoeg 2 600 MW se krag op te wek en by die nasionale kragnetwerk te voeg.

Ramaphosa het egter gesê dat daar “geen maklike oplossing vir beurtkrag is nie”.

Hy sê Eskom se skuld moet intussen bestuur word terwyl broodnodige instandhoudingswerk by kragaanlegte gedoen moet word. Nog uitdagings is die uitroei van korrupsie en die opknapping van vaardighede.

“Terwyl dit voortduur sal beurtkrag ’n moontlikheid vir die voorsienbare toekoms bly. Ons werk egter hard om die probleem op te los.”

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor energie, sê dit lyk of die regering uiteindelik die realiteit van die huidige kragkrisis besef.

“Na etlike jare van beurtkrag en plundering van Eskom het die regering klaarblyklik tot die gevolgtrekking gekom dat Eskom nie in onveranderde vorm gered kan word nie, dat hernubare krag wat deur die private sektor gefinansier word die Suid-Afrikaanse ekonomie kan red en dat die land nie kan bekostig om een van die wêreld se top-besoedelaars te bly nie.

“Hierdie gevolgtrekking het die regering gedwing om van koers te verander. Eskom sal met ander kragvoorsieners moet kompeteer en hernubare energie is ʼn wesenlike deel van die geïntegreerde energieplan (IEP).”

Volgens Boshoff hou hierdie “nuwe koers” egter politieke risiko’s in.

“Groot kapitaal- sowel as arbeidsbelange is in die steenkoolekonomie gevestig. Dit is waar die begrip van ’n regverdige oorgang vandaan kom –  ’n oorgang wat die regering hoop internasionaal gefinansier sal word.

“Die klem is op heropleiding van werkers en die aanpassing van aanlegte om deel van die nuwe energie-ekonomie te wees. Dit sal nie net werkers bystaan nie, maar gemeenskappe red.”

Boshoff sê hy stem ook nie met alles saam wat Ramaphosa tydens Donderdag se gesprek gesê het nie.

“Om aan te voer dat die land nog lank steenkool gaan verbrand omdat die reusesteenkoolkragsentrales van Medupi en Khusile gebou is, is om goeie geld agter slegtes aan te gooi.

“Verdere belegging in hierdie oorbegroting en verouderde aanlegte kan eerder in navorsing oor die waterstof-ekonomie belê word – iets waarna die president ook gunstig verwys het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietertjie ·

Nou wat sê hulle eintlik? Daar is nuwe planne in plek, maar moenie ‘n verbetering in dienste verwag nie, net ‘n verhoogde prysstruktuur. Seker om vir al die nuwe planne te betaal. Die prys wat ons betaal vir AA en BEE (niks met alkohol en heuning te doen nie).

SlinkseKoljander ·

Baie maklik oplossing raak ontslae van BEE aanstelling en kry die mense met die regte kennis terug.
My 5 jarige kan dit vir jou ook se.

Kobus ·

Nee mnr , daar is ‘n oplossing. Julle politici moet mnr De Ruyter los dat hy sy werk doen.Julle meng te veel in.

Pierre ·

Die huidige Politci los vir de Ruyter uit en ondersteen hom ten volle

annie ·

So lank as wat dit sal vat om 2 of wat korrelbedatoomkragstasies te bou (gewoonlik het dit so 15 jaar geneem vir die ou tipe) en vir ons goudmynbaas om sy groenkragnetwerk op te rig en elektrise karre plus laaistasies en elektriese karre plaaslik te ontwerp en te bou en om al Eskom se skuld af te betaal… So lank…

Deon ·

Die plek kan in derduisende deeltjies gedeel word maar as die kragstasies nie genoeg is nie dan is dit nie genoeg nie.. Punt

Saartjievandiebosveld ·

‘N plan vir nog geld in hulle sakke. ….

Morné ·

So ou Cyril het toe nou weer openlike gejok “Stem vir die anc as jy wil elektrisiteit hê” Our people het vir jou gestem…..en nou?
Oh skuus my fout….net soos hy gesê het daar is nie plaas moorde nie het hy dit ook nie gesê nie.

Sarel ·

Jare se Politieke immenging. Poste vir Boetties, Korrupte Bestuur wst toegelaat was sonder optrede BEE ens
Is verantwoorfelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.