Geen Meat World-winkels verloor regte ná herrie

Foto: Facebook

Meat World het bevestig geen van sy winkels is van hul franchise-regte ontneem nadat ʼn storm verlede jaar om die winkelgroep se kop losgebars het weens bewerings van onhigiëniese wanpraktyke in sy winkels nie.

Dit kom nadat Carte Blanche in September verlede jaar ʼn insetsel uitgesaai het waarin hy ʼn ondersoek gedoen het na bewerings dat sommige van die Meat World-winkels vervaldatums op vleisprodukte verleng en sodoende moontlik bederfde vleis aan kliënte verkoop.

Carte Blanche het beweer sy ondersoek het getoon dat daar by minstens nege van Meat World se 14 winkels nuwe etikette op vleisprodukte aangebring word. Volgens Carte Blanche kon daar in 11 gevalle by vyf verskillende winkels vasgestel word dat die etikette verander is om die vervaldatum op die produk te verleng, in sommige gevalle tot soveel as vier weke.

Carte Blanche het ook gesê hy het van die winkels se vleisprodukte na ʼn onafhanklike laboratorium gestuur om getoets te word en beweer die toetsresultate het getoon dat die mikro-organisme- en bakterieëvlakke op die produkte hoër is as die aanbevole spesifikasies vir veilige menslike gebruik.

Meat World het destyds in reaksie op hierdie bewerings gesê ʼn grootskaalse ondersoek sal by al 14 van sy winkels gedoen word. Hy het gesê vleisprodukte sal by die nege van die winkels wat deur Carte Blanche uitgelig is van die rakke onttrek word en indien die bewerings ernstig genoeg is, kan sommige van die winkels moontlik hul franchise-regte kwyt wees.

‘n Skermskoot uit die insetsel oor Meat World wat deur Carte Blanche uitgesaai is.

Janine Lazarus, ʼn woordvoerder vir Meat World, het Maandag aan Maroela Media gesê geen van die winkels se franchise-regte is egter onttrek nie, aangesien al die winkels ʼn nuwe voedselveiligheidstelsel, asook doeltreffende voedselveiligheid- en higiëne-praktyke geïmplementeer het.

“Meat World het ʼn voedselveiligheidskonsultantmaatskappy aangestel om intensiewe interne oudits vir alle winkels te ontwikkel en te implementeer. Dit sluit ʼn volledige ISO 22000-gebaseerde voedselveilligheidstelsel in wat vir elke individuele winkel geskep is. Die maatskappy word op ʼn maandelikse basis deur elke winkel gekontrakteer. Maandelikse verslae word vir elke winkel saamgestel wat telkens deur die topbestuur nagegaan word,” het Lazarus verduidelik.

Sy het gesê ʼn volledige mikrotoetsskedule is ook saamgestel en produkte uit alle Meat World-winkels word maandeliks deur ʼn geakkrediteerde laboratorium getoets. “Verskaffer-evaluerings word ook gedoen om te verseker dat slegs topgehalte-produkte in die winkels aangehou word,” het sy gesê.

Lazarus het bygevoeg daar is ook skoonmaakprogramme deur geakkrediteerde chemiese skoonmaatskappye geïmplementeer.

Lazarus het nie op ʼn vraag van Maroela Media gereageer of Meat World enige regstappe gedoen het na aanleiding van die uitsending van die Carte Blanche-insetsel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

bloues ·

Alle ogies is nou op Meatworld so hulle kwaliteit sal nou perfek wees!!

Boet Fasie ·

Stem saam, ek betaal liewers ‘n paar sent meer en weet wat ek koop en eet skoon.

foxi ·

Ja..Meatworld se kwaliteit sal nou 100% + wees. Maar beslis nie die verkoop pryse nie.

Skokkend ·

Dit is soos Rod Kafer die australiese kommentator altyd sê it aint over till the wistle blows.

Oom Walker ·

Die korrekte Afrikaans vir ‘franchise’ is mos konsessie, nie waar nie?

Anoniem ·

Dankie Meatworld sal julle ondersteun julle pryse nog altyd billik. Wonder net hoe skoon is van die mense se huise wat so kla.

Zel ·

Dis hartseer dat Carte Blanche eers n verslag moet doen voor hulle die regte ding doen… Die regte ding moet van die begin af gedoen word. Ek het anyway nog nooit van Meat World gehou nie

wilma ·

Ek is taamlik kieskeurig wat vleis aanbetref en moet in alle eerlikheid sê dat ek nog nooit enige probleme met hul vleis ondervind het in al die jare wat ek daar koop nie.

Louise ·

Het na 2de keer wat ons vrot vleis moes terug vat, besluit dis klaar. Ons koop by plaaslike slagter wat effens duurder is maar top kwaliteit vleis. Nie soos Meat World wat hul ‘grootmaat’ pakke verkoop, boonste vleis lyk goed en onder dit in pakkie is off-cuts. Nee dankie…

Manie ·

Ek het Desember drie keer rump steak gekoop by meat world. Was maar skepties oor die vleis maar volgens my was die vleis baie lekker.

GOED SO ·

Ek is bly want ons koop al lankal by hulle en hulle goed was nog altyd fine en vir ‘n billike prys. Julle weet maar net nie wat in julle ou plaaslike slaghuisie wat julle so goed ondersteun aangaan nie, en ander kettingwinkels spuit water in die hoender om hulle swaarder te laat voorkom ens ens . glo my .. hulle is maar net uitgevang .. ander slaghuise en kettingwinkels se mense doen PRESIES dieselfde . hier was maar net weer’n disgruntled employee wat sy werkgewer in die moeilikheid wou bring .. ek se nie wat hulle gedoen het is reg nie, MAAR dit gebeur oral .. ek het al oral vrot vleis gekoop selfs by ‘n baie ‘afrikaanse’ slaghuis .. Kies maar self waar julle wil koop . MEAT WORLD is fine!

Karin ·

@GOED SO – ek stem 100% saam met jou, Die ander vleis plekke doen presies dieselfde. Ek koop al vir 15 jaar vleis by Meat Word en het nog nooit ‘n slegte ondervinding gehad nie. Ek sal hulle bly ondersteun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.