Geen meer tenkwaens aan waterlose dorpe

Watertenk. (Foto: CCPB)

Tenkwaens gaan nie meer gebruik word om water te verskaf aan inwoners van stede en dorpe wanneer daar watertoevoerprobleme of droogte is nie. Dit weens die wye voorkoms van korrupsie met die verhuring van die tenkwaens.

Die minister van plaaslike regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, en die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, se aankondigings oor hierdie en ander veranderings aan stedelike droogtehulp, is gunstig ontvang deur die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee, Machwene Semenya, het gesê die komitee waarsku al jare lank oor die korrupsie by die verhuring van tenkwaens, en is verheug dat uiteindelik opgetree word. Sy het ook die toewysing van sowat R600 miljoen deur die nasionale en provinsiale regerings aan droogtehulp verwelkom. Dit is egter nog nie duidelik hoe die departement dié waterbron gaan vervang nie.

Volgens Semenya is dit voorts ’n goeie besluit van die regering om voortaan meer insette van munisipaliteite te kry oor presies waar en hoe droogtehulp bestee moet word, want die munisipaliteite ken die situasie en behoeftes op grondvlak beter as die nasionale of provinsiale regerings.

Die sogenaamde Oorlog teen Lekkasies (War on Leaks), ’n program deur die departement van water en sanitasie om lekkasies uit waterpype te herstel, gaan ook herbeplan word. Dit is volgens Semenya ’n stap in die regte rigting. Sowat 40% van Suid-Afrika se water lek tussen die dam en die kraan uit waterpype, wat nie alleen ondenkbare vermorsing in ’n waterskaars land is nie, maar ook sowat R7,6 miljard per jaar verlore laat gaan.

Semenya het gewaarsku dat die vorige program teen lekkasies negatiewe ouditverslae gekry het, en dat daar hierdie keer behoorlike finansiële beplanning moet wees. Ordentlike opleiding van jong Suid-Afrikaners en ’n strategie oor wat die jong mense met hul opleiding kan doen wanneer die tydelike werkgeleentheid verby is, is ook nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Petrus ·

Vernietig alle dienslewering tot op die grond.
Snel na volkome sosialistiese staat.
‘n Klompie stinkrykes en die res op die trapmeul – – en steeds hardloop die heer Juliaas rond en blameer almal behalwe die skuldiges

koos ·

Ek nou moet die inwoners van dors omkom deur die ANC se onbevoegdheid? Waar is julle alternatiewe planne dan?
Wie het korupsie af gemaak as ‘n westerse konsep wat nie in Afrika bestaan nie?

Maans ·

Waar gaan die inwoners dan water vandaan kry ? gaan die regering die water vir hulle pos ?

Johan ·

Die voormalige minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, het haar departement kruppel gelaat in skuld weens korrupsie. Die huidige minister, Lindiwe Sisulu, spandeer twee DG’s se salarisse aan “adviseurs” – o.a. Mo Shaik. My vraag: Wat weet hierdie mense van die onderwerp ter sprake: water en sanitasie? Gevolglik, wie dink hulle is hulle om besluite soos hierdie te neem tot nadeel van mense sonder water in ewe-korrupte munisipaliteite?

Penellope Jones ·

Is daar Enige plek in SA, waar daar Nog nie korrupsie gepleeg word nie?
Dit blyk Een se swaarkry, armoede, selfs droogte is die ander een se korrupte lewe

Lou ·

Hierdie is net weer nog ‘n bewys dat BBBEE nie werk nie. Dit is waar die korrupsie plaasvind as die korrupte amptenare by die munisipaliteit met die BBBEE besighede konkel om dienste te lewer teen astronomiese bedrae en dan deel hulle die “wins”
Wat ek nie verstaan nie is dat ons geagte President nou aankondig dat BBBEE verskerp moet word?? Is die man oningelig oor wat aangaan of is hy net plein ………
Hy gaan seker weer onsteld en verbaas wees oor die korrupsie wat toegeneem het as daar na ‘n jaar ‘n oudit gedoen word.

Lou ·

O ja hulle gaan nou seker die water met “stootskrapers” aanry soos Eskom die steenkool aangery het toe hulle vervoerband by Medupi gebreek het.
Mens kan maar net lag vir die snert wat die klomp narre kwyt raak.

Louw ·

War on leaks? Is lankal verloor. Maak een reg en mense kap ‘n nuwe een in die pyp vir gerieflike 24/7 gratis water. Veral pyplyne wat nabygeleë plakkerskampe is.

Kobus ·

Verstaan nie. Amptenare pleeg korrupsie maar diecinwoners van die dorpe gsan nou sonder water gelast word. Kyk mooi – Droogtehulp gaan op selfde wyse net verdwyn.

Susan vl ·

Hulle weet dat ons weer gaan inspring en help op ons onkostes… kyk na gate in pad. Wie spring in en probeer red. Ons. En so kan ons aanhou en aanhou voorbeelde noem

o ·

Dalk moet ons eerbare mevr Lindiwe Sisulu vir haar twee topklas en uiters duur raadgewers, Mo Shaik en Simelane vra vir advies .. Hulle kry elk mos amper 2 miljoen rand ‘n jaar om dit te doen,,

Akademi Buktu ·

Soos hulle daar sê, verstaan munisipaliteite die plaaslike situasie beter. En soos ons almal weet, is daar geen korrupsie in enige munisipaliteit teenwoordig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.