Geen Mei-salaris vir Denel se werkers

Werknemers by Denel gaan einde Mei geen salarisse ontvang nie.

Danie du Toit, Denel se uitvoerende hoof, sê die wêreldwye ekonomiese situasie wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, het ʼn beduidende uitwerking op die wapenvervaardiger se finansies en likiditeit gehad.

Die ekonomiese skokke kom boonop op ʼn tyd wat die maatskappy besig is met die inwerkingstelling van ʼn verreikende omkeerplan om Denel ná jarelange wanbestuur en staatskaping weer te stabiliseer.

“Ons likiditeit is onder geweldige druk en ons moet ingrypende maatreëls instel om die maatskappy te red,” het Du Toit gesê.

“Dit is uiters ongelukkig dat ons nie salarisse dié maand sal kan betaal nie, maar ons het geen ander keuse nie.”

Du Toit sê die vooruitsig vir Junie en Julie se salarisse lyk ook nie goed nie en ʼn besluit daaroor sal later geneem word.

Denel sê hy is intussen in gesprek met die regering om ʼn oplossing vir die jongste krisis te kry.

Volgens Du Toit het Denel reeds maatreëls getref om sake by die wapenvervaardiger om te keer en sy geldsake ʼn hupstoot te gee. Daar is van nie-kernbates ontslae geraak en bedryfskoste is reeds met sowat R1 miljard verminder.

Hy sê die maatskappy het nie die uitwerking van Covid-19 vrygespring nie en het maar pas begin om sowat 30% van sy werkmag weer in diens te stel. Sowat 19% van werkers werk van die huis af. Die ander 51% kan glad nie werk nie en kom op ʼn tydstip wat die maatskappy al sy hulpbronne benodig.

Internasionale afsondering het Denel se buitelandse vennote en verskaffers boonop gedwing om self stappe te doen om hul kontantvloei te beskerm – maar dit het beteken Denel word nou verder in die rooi gedruk.

Du Toit sê die maatskappy doen intussen alles moontlik om die uitwerking op sy werkers te verminder. Hy hoop om minstens ʼn gedeelte van hul salarisse in ʼn stadium te betaal.

Helgard Cronjé, Solidariteit se koördineerder vir die verdediging- en lugvaartsektor, sê vakbonde het Vrydag met Denel vergader en is toe ingelig dat die onderneming se geldsake beroerd is. Maandag het Denel aan die vakbonde bevestig dat hy bloot nie genoeg geld het om salarisse te betaal nie.

Cronjé sê sommige projekte is afgehandel en is gereed om verskeep te word, maar weens die staat van algehele afsondering en die bepalings wat tans geld kon geen uitvoerpermitte daarvoor nog bekom word nie. Denel kan in dié stadium dus bykans geen inkomste genereer nie.

Cronjé sê die kostebesparingsmaatreëls wat werkers voorgelê het, gaan ook nie op die korttermyn enige uitwerking op Denel se benarde finansiële situasie hê nie.

Cronjé sê Denel het ingestem om ʼn brief aan werkers te verskaf waarin hy sê die betrokke werker ontvang vandeesmaand geen salaris nie. “Dit is ʼn baie moeilike situasie. Ons het gevra vir die briewe sodat mense minstens kan vra vir betalingsverlof.”

Solidariteit sê Denel is nie eiehandig verantwoordelik vir die huidige benarde situasie nie en dat die afsonderingstydperk moontlik die laaste spyker in die doodskis was. Cronjé sê hulle ondersoek intussen ook alle moontlikhede om werkers te help.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het vroeër vandeesmaand gesê hy is nie ten gunste daarvan om enige verdere belastingbetalersgeld aan wanfunksionele staatsbeheerde ondernemings te bestee nie. Mboweni het Denel egter by name hiervan uitgesluit weens die onderneming se potensiaal om buitelandse valuta te verdien.

Denel se verliese het teen die 2018-’19-boekjaar tot R1,7 miljard gegroei en in Augustus verlede jaar het hy ʼn reddingsboei van nagenoeg R1,8 miljard van die tesourie gekry om te voorkom dat die maatskappy heeltemal ondergaan. Dit was sowat R1 miljard minder as waarvoor die wapenvervaardiger gevra het.

In Junie en Julie verlede jaar het Denel ook gesukkel om ʼn gedeelte van sy werkers se salarisse te betaal. ʼn Maand later het die hooggeregshof in Pretoria ná ʼn dringende aansoek van Solidariteit Denel beveel om dringend werkers se werkloosheidsversekering en belastingaftrekkings oor te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

ANC, nog n pluimpie in die hoed vir julle. Welgedaan.

capie

Wat help ‘n onderneming wat buitelandse valuta verdien as die onderneming teen ‘n verlies berdryf word.

Erica

Jammer om te hoor. Ander mense het April al nie geld ontvang nie. Ons is vandag ingelig geen geld vir Mei. So ons het al vir 2 md geen inkomste. UIF sleep hulle voete. Ons is eers afgekeur nou hang dit in die lug vir meer as 15 dae al. Ek is seker hulle sal UIF kry voor ek.

JohanR

Baie het in April net halwe salaris gekry, baie sal in Mei geen salaris kry, en baie is einde van April afgedank. Dink net hoe ver daai R440 miljoen vir die Kubane doctors kon gegaan het om die MENSE van SUID AFRIKA te hulp om te oorleef?

Willem

Mooi gedoen anc