‘Geen mens is gemaak om op te gee’

Elandri Schmidt het met haar merkwaardige eindpoging beïndruk. (Foto: Verskaf).

As sport vir lewenslesse sorg, dan moet sy deelnemers beslis die leermeesters wees. Vra net vir Elandri Schmidt.

Sy is immers die perfekte voorbeeld van deursettingsvermoë en moed.

Dié graad 12-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch het die verbeelding van sportliefhebbers aangegryp toe sy by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se junior kampioenskap doodeenvoudig geweier het om handdoek in te gooi.

Schmidt, ʼn 1 500 m-ster, het toe aan die 3 000 m-item in Pietermaritzburg deelgeneem. Sy het aan hitte-uitputting gely en haar bene wou in die pylvak net nie meer verder nie, maar sy het voortgebeur en oor die wenstreep gekruip.

Voete van goud – Elandri in aksie. (Foto: Charmaine Botes Visser)

Die uiteinde?

ʼn Merkwaardige tweede plek in die o. 20-kategorie wat die respek van mede-atlete en sportliefhebbers dubbel en dwars verdien.

“Al waaraan ek kon dink was om die wedloop te voltooi,” het Schmidt die afgelope week vir Maroela Media gesê.

Sy vertel dat sy terselfdertyd aan die plaaslike atletiekunie wou bewys dat dit die moeite werd was om haar ook vir die 3 000 m-item in te skryf; sy sou aanvanklik net by die 1 500 m in aksie gewees het.

Maar as jy ʼn belowende langafstandatleet is wat reeds aan die een item deelneem, kan jy net sowel die ander ook doen, of hoe?

“Aanhouer wen. Ek het baie hard geoefen en ek glo dat harde werk beloon word – ek wou my medalje hê. Geen mens is gemaak om op te gee nie; veral nie ek nie.”

(Foto: Verskaf)

Sy sê self dat sy met hoop in haar hart en drome in haar kop hardloop: Elandri Schmidt is iemand wat atletiek doen omdat sy daarvan hou.

“Ek het vir hierdie wedloop gevra en ek wou dit tot die heel einde deursien. Opgee was hoegenaamd nie ʼn opsie nie en ʼn mens moet baklei vir dit wat jy wil hê.”

Schmidt hoop dat haar uithalervertoning ander sal aanspoor om ook enduit te volhard – hetsy op die atletiekbaan of in die lewe.

“Hopelik kan ander atlete sien dat ek die wedloop voltooi het, ondanks die probleme wat opgeduik het. Dit is belangrik om aan te hou, selfs al is die uitslae nie noodwendig wat jy verwag nie. Deursettingsvermoë het immers ʼn magiese effek op hindernisse en probleme – dit sorg dat dit laterhand verdwyn.”

Sy oefen ses dae per week – vir ontspanning, nogal – maar kry darem ook nog tyd om aandag aan haar huiswerk te gee.

“Daar moet altyd balans in jou lewe wees. Ek wil egter atletiek ʼn lewenswyse maak en ek wil vir so lank as moontlik aanhou hardloop.”

  • Haar gunstelingitem: “Die 1 500 m. Dit is opwindend!”
  • James Moloi, ASA-hoof, het Schmidt se vertoning só aan Die Burger beskryf: “Sy het in die moeilike toestande aan hitte-uitputting gely. Sy het in die laaste ronde oor die bane begin swenk en in die pylvak inmekaargesak. Sy het daarin geslaag om oor die lyn te kruip en haar skouers oor te kry om ʼn tyd te registreer, wat haar die tweede plek besorg het.”
  • Sy word nou deur Ernie Gruhn op die atletiekbaan afgerig, terwyl Johan Fourie en Dieter Voigt ook ’n groot rol in haar sukses gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

As ek ‘n werkgewer was is dit die soort persoon wat ek sou wou by my maatskappy werk. Miskien as iemand hulle CV inhandig moet hulle eers ‘n 10km hardloop net om te sien of hulle die X factor het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.