Geen nasionale gesondheidsversekering tot nuwe wet aanvaar word

Solidariteit sê hy is verheug oor die toegewing, maar meen dat die uitsprake eintlik nooit gemaak moes word nie. (Argieffoto: Ibrahim Boran/Unsplash)

Dr. Nicholas Crisp, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het in ʼn brief aan Solidariteit bevestig dat die departement geen verdere aankondigings oor die inwerkingstelling van die beoogde nasionale gesondheidsversekering (NGV) gaan doen, alvorens die wetsontwerp daaroor aanvaar is nie.

In die brief sê Crisp dat die NGV-wetsontwerp na die departement se mening nou voor die parlement dien en tot die parlementêre prosesse uitgeput en die wetsontwerp bekragtig is, kan die departement nie aankondigings oor die uitrol of inwerkingstelling van die NGV maak nie.

Solidariteit het dit as ʼn oorwinning vir sy lede in die gesondheidsektor, asook vir sy ander lede in die algemeen bestempel, wat in die lig van beoogde inwerkingstelling van die wet met reuseonsekerheid gekonfronteer is.

“Ons het talle lede in die gesondheidsektor wat deurgaans moet worstel met uitsprake wat die departement maak en wat die indruk sou wek dat die departement optree asof die NGV reeds wet is. Hierdie brief bring meer sekerheid vir ons lede oor hul toekoms, veral in die lig van navorsing wat reeds getoon het hoe negatief gesondheidswerkers oor die wetsontwerp is,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

“Dit bring ook verligting vir al ons ander lede wat belasting betaal of aan ʼn mediese fonds behoort aangesien hulle hul nie oor drastiese veranderinge wat op hande is, hoef te bekommer nie.”

Solidariteit het vroeër vanjaar ʼn brief aan die departement gerig oor uitsprake wat gelewer is terwyl die wetsontwerp nog in die parlement bespreek én aan openbare deelname onderwerp moes word. Solidariteit het antwoord by Crisp geëis nadat hy in Augustus vanjaar beweer het die NGV sal teen die einde van die jaar in werking tree.

“Ons is verheug oor die toegewing, maar eintlik moes dit nooit gebeur het dat amptenare oor voorgestelde wette praat asof die wet reeds ʼn werklikheid is nie. Ons hou dus nou die regering met ʼn valkoog dop om seker te maak dat dit voortaan nie weer sal plaasvind nie,” sê Van der Bijl.

Solidariteit beywer hom intussen steeds om die inwerkingstelling van die NGV as wet te beveg en hou vol dat dit geweldige negatiewe finansiële gevolge vir die ekonomie sowel as drastiese gevolge vir gesondheidsorg in die land kan inhou.

“Hierdie toegewing van die departement bly egter ʼn groot oorwinning in die voortgesette stryd en stuur ʼn boodskap uit dat die NGV steeds gestuit kan word,” sê Van der Bijl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Parmantige samaritaan ·

As mense dink Eksdom is n gemors, wag tot hulle hierdie nuttelose gesondheidsprogram gaan instel.

Shakespeare ·

Hoe gaan die NG Wet aanvaar word ? Deur 90% korrupte kriminele kaders om hul eie sakke te vul teen 10% eerlike en bevoegde amptenare. Geregtigheid sal NOOIT seëvier in die “delapidated” land van ons nie. Wat my aanbetref is die hele ANC/EFF die hartsverskeurendste effek wat enige land kan tref.

Alet ·

Hierdie is maar een van vele van die legkaartstukke van globalisering/ NWO/Re-set. As dit nie nou gebeur nie, sal dit wel later kom. Ons moet wyer begin kyk en die groter prentjie van AL die wereldgebeure begin raaksien…

Samuel ·

Hierdie NGV gaan nooit werk nie. Hoe gaan dit regtig mense met mediesefondse raak? Korrupte amptenare gaan dit probeer bedryf.

Moedeloos ·

Samuel indien jy n werknemer is met medies as byvoordeel, gaan jou werkgewer nie meer vir jou n subsidie tot jou medies gee nie. Hul sal ook aan die NGV moet bydra so hul gaan die privaat mediese subsidie staak. Jy sal nogsteeds privaat medies kan hê maar met geen subsidie nie. Dis wat vermoed word gaan gebeur.

AmY ·

En as die ministers siek word? Sal hulle in die NGV-hospitale gaan lê?
Of gaan hulle land uit gaan vir behandeling?

annie ·

Dit wil voorkom of private hospitale gedurend covid-afsondering swaarder gelaai was as staatshospitale en dat talle staatspasiënte weggewys is of moes rondval om toelating te kry. Hierdie tipe gedrag gaan erger word wanneer die NGV wet word. Die ANC sal veral nou dat sy beheer begin taan erge maatreëls en wette probeer deurdruk om sy kommunistiese beleid/magspel weer op koers te kry.

Parmantige samaritaan ·

Geen hoop daarvoor nie. Die gepeupel gaan mos nou “gratis” privaat mediese sorg kry, waarvoor die belastingbtaler moet betaal.

Jr ·

Solidariteit hoeveelste saak wat julle WEN. Govt – nog net nog een van die honderde wat julle weer VERLOOR. VF ek het my kruis langs julle gesit maar ASB LEER BY SOLIDARITEIT. Wees meer aggresief en los net praat

Johan ·

As ek kyk na die katastrofe wat medisie met die afgelope twee jaar se verkoue veroorsaak het moet hul dalk maar gaan.

Moedeloos ·

En wat van die Welsyns Wet wat ook al geopper is en toe skielik van die tafel verdwyn het. As ons eendag ons ogies oopmaak, is dit klaar wet.

Swerwer ·

Belaglik van die begin af. Die ANC kon maar van die begin af hul Politieke Party die Kommunistiese Party genoem het want daar is geen verskil tussen die ANC en kommunisme nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.