‘Geen noodkrete’ waar twee verdrink

Die swembad by The Venue Country Hotel and Spa in Broederstroom waar twee studente verdrink het. (Foto: Verskaf / Hems)

The Venue Country Hotel and Spa in Broederstroom naby Hartbeespoortdam in Noordwes sê daar was “geen geraas of noodkrete” toe twee studente Dinsdagaand in ʼn swembad op dié perseel verdrink het nie.

Dr. Antoinette Gmeiner, woordvoerder van Orion Hotels and Resorts, het Woensdag gesê hulle betreur die voorval en stel intussen ook ʼn interne ondersoek in.

Maroela Media het vroeër berig dat die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek doen ná die lewelose liggame van dié 21-jarige man en 19-jarige vrou omstreeks 21:00 deur ʼn werknemer van die luukse onderneming ontdek is.

Gmeiner sê die presiese feite oor hoe die verdrinking plaasgevind het, word in dié stadium nog ondersoek.

Sy het bevestig dat die studente by die hotel gebly het aangesien hulle ʼn konferensie bygewoon het.

Hulle was deel van ʼn groep van 23 studente van die Orbit Leadership College in Mogwase (naby Sun City).

“Die groep het vroeër die aand geëet en daarna ontspan, waartydens die twee betrokke studente besluit het om te gaan swem. Medestudente was daarvan bewus dat hulle gaan swem het,” sê Gmeiner.

“Daar is bevestig dat geen geraas of noodkrete van die swembad afkomstig was terwyl die twee daar was nie.”

Die polisie het vroeër gesê die studente het die kroeggedeelte om 20:00 verlaat en is van daar af na die swembad waar hulle ʼn uur later dood aangetref is.

Hoewel noodbehandeling deur nooddienswerkers toegepas is, is die twee studente op die perseel dood verklaar.

Volgens Gmeiner ontvang die res van die studente, fasiliteerders en personeel tans berading.

“Ons betreur hierdie ontstellende voorval en werk nou saam met al die relevante owerhede terwyl verdere ondersoeke voortduur. Ons betuig ons innige meegevoel met die gesinne van die oorledenes, asook almal wat deur dié tragedie geraak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alma ·

Sjoe, dit klink vreemd…maar nietemin innige simpatie aan die twee se geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.