Onafhanklikes sal steeds nie in nasionale en provinsiale verkiesings in Suid-Afrika as kandidate kan staan nie – hulle sal hulle by politieke partye moet aansluit of desnoods self partye moet stig as hulle dit wil doen.
Dit was die uitspraak van regter Siraj Desai in die Wes-Kaapse hooggeregshof in ‘n saak waar ‘n vrou wat haarself as ‘n prinses van die Koranna-koningshuis bestempel, beweer het haar reg op vryheid van assosiasie word daardeur benadeel dat sy nie onafhanklik in die verkiesing kan staan nie.
Chantel Revelle het beweer omdat onafhanklikes nie in die nasionale en provinsiale verkiesing kan staan nie, word die beste mense nie altyd in leierskapposisies verkies nie. Sy voel haar nie in enige van die bestaande partye tuis nie en wil as onafhanklike op eie stoom aan die verkiesing deelneem.
Onafhanklikes word wel toegelaat om as wykskandidate in munisipale verkiesings te staan, en soms wen hulle.
Desai het egter gesê hy gaan nie Revelle se versoek, dat die Kieswet gewysig moet word, toestaan nie. As sy daarna voel kan sy haar eie politieke party met haarself as kandidaat stel mits sy die voorgelegde wetsvoorskrifte nakom, het die regter bevind.