Geen ongerymdhede rakende Theuns Eloff se skenking

dr-Theuns-Eloff-en-prof-Dan-Kwagdi

Dr. Theuns Eloff en prof. Dan Kwagdi tydens ‘n mediakonfrensie. Foto: Argief.

Die Noordwes-Universiteit se raad het bevind daar was geen ongerymdhede rakende die skenking van R10 miljoen wat dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU, aan ʼn trust gemaak het nie.

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, is daar tydens ʼn raadsvergadering Vrydag beslis dat dr. Eloff wyd oorleg gepleeg het met die verantwoordelike beamptes by die NWU rakende die lewensvatbaarheid en uitvoerbaarheid van die inisiatief. Die trust is geregistreer in ooreenstemmig met wetlike vereistes.

Jacobs het gesê stappe sal gedoen word om die R10 miljoen wat dr. Eloff aan die NWHET betaal het, terug te kry van die trust of enige ander entiteit wat van die geld het of waarin van die geld belê is.

Volgens Jacobs het die raad ook besluit dat ʼn nuwe beleid deur die bestuur ingestel moet word vir die hantering van skenkings en dat die bestaande afvaardigingsbeleid uitgebrei of hernu moet word.

Adv. Johan Kruger, voorsitter van die raad, het sy tevredenheid uitgespreek dat die saak uiteindelik afgehandel is.

Die North West Higher Education Trust (NWHET) is deur Eloff gestig om as ʼn onafhanklike liggaam geld vir die NWU en ander hoëronderwysinstellings in Noordwes te in.

Eloff het in November verlede jaar ʼn formele brief aan die lede van die NWU-raad gestuur waarin hy opnuut beklemtoon het dat die skenking van R10 miljoen aan die NWHET en die prosedures wat gevolg is, bo verdenking is. Volgens Eloff se brief is skenkings van alumni gebruik om die trust te finansier nadat ander geldinsamelingsprojekte hiervoor nie voldoende resultate gelewer het nie. Die trust sal onder meer aangewend word om navorsingsprojekte te finansier.

Sy regte as visekanselier het hom in staat gestel om die geld oor te dra na die trust. Eloff het ook in die brief beklemtoon dat hy die skenking bevestig het met die voorsitter van die universiteitsraad en die voorsitter van die finansiële komitee. Dit is ook in die institusionele bestuursvergadering ter tafel gelê en bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.